Wie is Jesus? Deel 4Voorbeeld
Leef in Gebed
Hoofstuk 26 is gewigtig en wys ons soveel meer van Jesus. In die begin is Hy as koning gesalf ter voorbereiding van wat kom. Vervolgens word Hy as die Paaslam geopenbaar. Kort voor lank word Hy in 'n tuin gearresteer. Dieselfde plek waar ons verhaal en ons probleem begin het.
Terug in die tuin van Eden het Adam en Eva teen God in opstand gekom. In plaas daarvan om met Hom saam te werk, het hulle probeer om in sy plek te heers. Met ander woorde, hulle het gekies om hul eie wil eerder as God se wil te vertrou. Daardeur het hulle gerebelleer en die siekte van sonde in die skepping gebring. Sonde is 'n siekte wat elke aspek van wie ons is verdraai en God se goeie skepping besoedel het. Ons beleef elke dag die gevolge van hierdie toestand in ons wêreld.
In hierdie hoofstuk bevind ons Jesus in 'n ander tuin, die tuin van Getsemane. Hy weet presies wat met Hom gaan gebeur. 'n Goeie vriend is op pad om Hom te verraai. Dieselfde skare wat 'n paar dae tevore "Hosanna" geskree het, sou nou die woorde skree: "Kruisig hom!" Romeinse soldate sou Hom martel. Vriende sou Hom verlaat. Godsdienstige leiers sou Hom bespot. Uiteindelik sou Hy gekruisig word deur die mense wat Hy kom red het. In plaas daarvan om hierdie plan egter te weerstaan, onderwerp Jesus homself. Hy bid: "Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil" (vers 39). Hy illustreer presies wat ons die hele tyd genooi is om te doen — gaan met God in vennootskap om sy goeie plan vir die skepping uit te voer.
Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” Matteus 26:39.
Drie keer bid Hy dat die Vader se wil in en deur sy lewe sal geskied. Onthou jy ook hoe Jesus ons in Matteus 6 geleer het om te bid? Hy het gesê:
“Só moet julle dan bid: 'Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied soos in die hemel net so ook op die aarde; …’” Matteus 6:9-10 AFR53.
Weereens het Jesus nie net sommer dinge gesê nie, Hy het dit werklik uitgeleef. Hy is so betroubaar en opreg. In die moeilikste en pynlikste oomblikke van sy lewe bid Hy steeds: "Laat U wil geskied."
Kyk maar na die resultate. Adam en Eva se verhaal bevestig die katastrofiese uitkoms van 'n lewe gebaseer op ons eie wil en begeertes. Daardie soort lewe bewerkstellig net pyn en korrupsie. Want 'n lewe gefokus op wat ek wil hê, lei daartoe dat ek ander vertrap en uitbuit. In Jesus egter, sien ons die perfekte voorbeeld hoe 'n lewe lyk wat aan die wil van God oorgegee is. Was dit maklik? Beslis nie. Die gevolg van Jesus se keuse om God se wil te vertrou, was dat hoop en redding vir die hele skepping moontlik geword het. Deur Jesus se gehoorsaamheid het God lewe uit die dood gebring.
Ons het vandag dieselfde keuse. Gaan ons kies om ons eie weg te vertrou en te volg? Of sal ons daagliks kies om God se wil vir ons lewens te volg? Dit is wat dit regtig beteken om 'n volgeling van Jesus te wees.
"Toe het Hy [Jesus] vir die skare gesê: 'As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, elke dag julle kruis opneem, en My volg”'" (Lukas 9:23 NLV).
Aangaande hierdie leesplan
Wie is Jesus? Dit is die fundamentele vraag. As Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is, verander dit alles. As Jesus egter nie is wie Hy gesê het Hy is nie, verander dit ook alles. Sluit by ons aan in die finale deel van ons reis deur die evangelie van Matteus om die antwoord op hierdie belangrike vraag te ontdek.
More