Gebede om God te KenVoorbeeld
"Hy het ons verlos, nie op grond van wat ons gedoen het vir ons vryspraak nie, maar slegs op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy vermag deur die reiniging van die weergeboorte en deur die Heilige Gees wat ons vernuwe."
— Titus 3:5 (NLV)
Bewondering
Here, om U te ken is om u genade te ken, want sonder u genade kan ek U nie nader om U te leer ken nie. U is die groot, allerhoogste Koning wat oor alles heers en alles volgens u geregtigheid oordeel. Sonder u genade, was ek al lankal verdoem. In plaas daarvan kry ek die kans om ‘n lewe te lei, gevul met betekenis, doelgerigtheid en invloed deur my hegte verbintenis met U as die Bron en Voorsiener vir almal.
Wanneer dit my beurt is om genade teenoor iemand te betoon wat my verraai of my eenvoudig ignoreer, is dit soms moeilik om te doen. Iets binne-in my weerstaan dit. U genade stroom egter soos water wat oor die rotse van ‘n waterval stort. Daar is geen weerstand nie. U hou niks terug nie. U was ons elkeen skoon met u liefde en ek loof en prys U vir u vermoë om genade te betoon waar dit nie verdien word nie.
Belydenis
Vader, te dikwels versuim ek om die ontelbare dinge in my lewe, waar u genade aan my betoon, raak te sien, te erken of om U daarvoor te bedank. U het so baie kere U toorn van my weerhou, wat deur my sondige keuses veroorsaak is, dat ek u genade as vanselfsprekend aanvaar het. Genade moet egter nooit as vanselfsprekend beskou word nie, want dit is 'n gawe van die Gewer.
Ek bely aan U dat ek, as iemand wat hierdie groot gawe van genade oor en oor ontvang, U nie altyd in my hart eer nie. Ek is meer op myself en my agenda gefokus as om die agenda van u koninkryk deur my woorde en dade te bevorder. Vergewe my dat ek versuim om op so ‘n manier op u genade te reageer, dat dit van my ‘n volledige rentmeester en dissipel van die koninkryk maak in alles wat ek doen.
Danksegging
Hemelse Vader, dankie vir die diepte van u liefde, waaruit u groot genade vloei. Dankie vir die krag van u geduld wat daartoe lei dat U met liefdevolle goedhartigheid op my sondes reageer. Dankie dat U my herinner aan u genade sodat ek nie selfvoldaan word nie.
U genade motiveer my om U al meer te dien en lief te hê. Dankie dat U soveel vir my omgee, dat U wil hê ek moet U dien. Dankie dat U in my glo en my gebruik om u koninkryk se agenda op die aarde te bevorder.
Smeekgebed
Vader, ek wil u genade beter leer ken. Ek wil werklik besef hoeveel genade U al aan my bewys het. Ek wil nie die hoeveelheid en diepte van die genade miskyk wat U aan my, deur die verloop van my lewe, bewys het nie. Ek glo dat ‘n diepe besinning van u genade teenoor my, ‘n hoër vlak van dankbaarheid by my sal kweek. Vermeerder hierdie dankbaarheid in my as ‘n antwoord op u groot genade.
In die Naam van Jesus, vra ek om U beter te leer ken deur u genade te verstaan. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In tye van krisis en verandering, is om God te ken, die enigste pad na stabiliteit en vrede diep in jou hart. Deur gebed kan jy sy liefde, sy karakter en sy krag ervaar — en toelaat dat jou geloof verander soos God jou bemagtig om voortdurend sy koninkryk op aarde te bevorder.
More