Die Karakters van Paasfees: Simon PetrusVoorbeeld
Dit lyk of die eerste ontmoeting tussen Jesus en Petrus deur Simon se broer, Andreas, bewerkstellig is. Hy was geïnteresseerd in 'n ander rondtrekkende onderwyser, die alleenlopende profeet, Johannes. Sommige het hom "die doper" genoem weens sy omstrede praktyk om Jode, bo hul koue rituele, tot 'n nuwe vlak van bekering en reiniging op te roep. Johannes was anders as die besadigde rabbi's in die sinagoge. As 'n wilde swerwer wat verklaar het dat die koninkryk van die hemel naby gekom het, het Johannes daarop aangedring dat die volk van God hulself moes voorberei. Baie het hulle skouers oor Johannes se boodskap opgetrek, maar Andreas het geluister. Die woorde het reguit na sy hart gegaan. Johannes het nie oor homself gepraat nie, maar van 'n ander Een wat God sou stuur om met 'n gaffel die ware gelowiges van dié wat voorgee uit te wan.
Galileërs was gereed vir boodskappe oor God se komende koninkryk, veral in 'n tyd toe die volk Israel, ten diepste die las van onderdrukking gevoel het. Hoop op 'n beter toekoms is egter deur 'n tasbare gevoel van wanhoop oorskadu, 'n sinisme wat deur die Romeinse heerskappy en mislukte rewolusies verhard is. In hul leeftyd is Galileërs in 'n lelike konfrontasie deur Pontius Pilatus, die goewerneur van Judea, afgemaai.
Tog het Andreas steeds op daardie dag geluister tydens 'n reis na Jerusalem saam met Johannes toe die profeet na Jesus, die seun van Josef, en 'n mede-Galileër wys en verklaar het: "Kyk, die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem!" Andreas is na die plek toe waar Jesus oorgebly het en is geboei deur hierdie rabbi se onderrig. Hy het dus na Kapernaüm teruggekeer en na sy broer, Simon, gehardloop om hom aan te spoor om na hierdie Jesus te gaan luister.
Jy kan jou die toneel amper in jou gedagtes voorstel, nie waar nie? Ek sien hom uitasem uitroep en Simon aan sy visvang-onderbaadjie gryp. Dit is die een! Ek weet dit klink gek, maar vertrou my, jy moet na Hom kom luister. Ek het nog nooit so iets gesien nie.
Messias, gesalfde een, het baie dinge beteken; en al is die twee broers in die Torah gekatkiseer, was hulle nie geleerdes wat geskrifte bestudeer het nie. Tog, anders as diegene wat dit gedoen het, het hulle genoeg geweet om Hom te volg. Op daardie stadium het hulle nie geweet of verstaan dat die Christus nie net sou opdaag en Israel se vyande oorwin nie. Hulle kon nie 'n onregverdige verhoor, 'n bloedige kruis, en die koms van die Gees sien kom nie. Tog het hulle net genoeg geweet om Hom te volg.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Petrus was maar net 'n visserman vanuit die afgeleë gebied van Galilea. Jesus het hom egter geroep en hy het die rots geword waarop die kerk gebou is. Hy was 'n getuie van die lewensbelangrike gebeure van die kruis en leë graf. Kom saam met die skrywer, Daniel Darling, op hierdie 10-dag leesplan om die lewe van Simon Petrus, 'n onwaarskynlike karakter wat deel is van Jesus se verhaal, te ontdek.
More