Gewoontes van HeiligheidVoorbeeld
Selfs Daardie Dinge
Vergifnis is nog een van daardie woorde wat 'n slegte konnotasie kan kry. Is dit dan om daardie persoon wat my onreg aangedoen het, skotvry daarvan te laat afkom? Of om toe te laat dat daar oor jou geloop word? Is die aanbied van vergifnis 'n "leef en laat leef" mentaliteit? Of vorm dit eintlik deel van heilig wees?
Die saak staan so: ons is geroepe om heilig te wees soos ons hemelse Vader heilig is — om so te lewe dat die wêreld Hom in ons sien. In een van Jesus se preke sê Hy:
"Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is" (Lukas 6:36).
Wag so 'n bietjie. Het Jesus die aanhaling verkeerd? Ek het gedink dit is "wees heilig, net soos Ek [God] heilig is"? Ja, maar Jesus het presies geweet wat Hy doen. Omdat die deel van heiligheid wat sy gehoor gemis het, barmhartigheid was. Hoe dikwels mis ons dit in hoe ons ander behandel? Wanneer onsself dit nodig het, maak genade en barmhartigheid sin, maar sodra iemand ons seermaak, dan wil ons geregtigheid hê!
Wat dit nog meer verstommend maak, is dat voordat jy Hom geken het, Hom erken het, Hom vertrou het, of selfs 'n enkele tree in sy rigting geneem het, het Jesus reeds vir jou die pad na die kruis geloop.
"Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (Romeine 5:8).
Praat van radikale barmhartigheid en genade. Wat God vir ons deur die voorbeeld van Jesus wys, is dat vergifnis regtig niks te doen het met die reaksie van die ander persoon nie. Dit is 'n doelbewuste besluit om hulle op dieselfde manier te behandel as wat God jou deur Christus behandel het. Met ander woorde, Hy was ons so genadig dat ons roeping om Hom ten beste teenoor die wêreld te weerspieël onafskeidbaar is van die gewoonte om genade aan ander te bewys.
Na 'n uitdagende preek, vra Petrus vir Jesus hierdie vraag:
“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21).
Jesus antwoord hom met hierdie verhaaltjie: "Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: 'Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.' Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf." Wat doen die amptenaar? Huil van blydskap? Reël 'n partytjie? Leef die mees vrygewige lewe ooit van daardie oomblik af? Nee, nie een van bogenoemde nie. "Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: 'Betaal wat jy skuld!' ... Maar hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi ..." Wag, wat? Het hy geheueverlies gekry toe hy die koning se hof verlaat het? Want dit mag nie gebeur nie. Dit is presies Jesus se argument. Die enigste gepaste reaksie op vergifnis van die skuld wat ons ons vrede, ons verhoudinge en ons vryheid sou kos — want dit is wat sonde doen — is om om te draai en ander te vergewe.
Daar is van ons wat erg, diep, afskuwelik verontreg is. Om ander seer te maak en te misbruik, is nie reg nie. Vergifnis verander dinge nie skielik in maanskyn en rose nie. Dit is nie om voor te gee dat alles reg is nie. Dit is eintlik presies die teenoorgestelde. Bitterheid veroorsaak dat jy dinge van jou afskud. Vergifnis konfronteer hulle met die krag van die kruis. Jesus moes vir daardie dinge sterf. Dit is duidelik 'n groot saak. Omdat Jesus daarvoor gesterf het, hoef ons dit nie te dra nie. Die keuse om genade te betoon en vergifnis te bied, maak ons vry om in vrede te wandel, met volkomenheid en vryheid wat Jesus ons bied, terwyl die keuse van onversoenbaarheid tot bitterheid lei — en die enigste persoon wat ons regtig seermaak, is onsself. Om egter genade te betoon, beteken nie dat ons verhouding met die persoon sal of moet terugkeer na die manier waarop dit voorheen was nie. Ons kan nie gehoorsaamheid of berou namens hulle kies nie. As heilige volgelinge van Jesus, is ons taak om barmhartigheid te betoon net soos ons hemelse Vader aan ons barmhartigheid gebied het.
Gewoonte 4: Betoon genade aan ander. Hoe gereeld moet ons vergewe? Dit was Petrus se vraag, wat Jesus beantwoord het deur te sê: "selfs sewentig maal sewe keer" en dan die verhaal oor die twee skuldenaars te vertel. Het Jesus vir ons 'n woordsom gegee, soos in die wiskundeklas? Nee, sewe is die getal van voltooiing. Wat Jesus dus gesê het, is dat ons moet aanhou vergewe totdat ons vergifnis heeltemal voltooi is. 'n Ander woord vir voltooi is volmaak, en 'n ander woord vir volmaak (jip, jy het dit reg geraai), is heilig. Ons, as heilige mense, vergewe onophoudelik — voortdurend, uit gewoonte — want ons heilige God versuim nooit om ons te vergewe nie.
Aangaande hierdie leesplan
As volgelinge van Jesus word ons geroep om as heilige mense te lewe om sodoende ons heilige God te verteenwoordig. Heiligheid is nie 'n towerbestemming waar ons moet uitkom nie, maar die identiteit waaruit ons kan lewe. In hierdie leesplan kyk ons na sommige van die gewoontes wat ons kan toepas om ons te help om in heiligheid te wandel in ons persoonlike en aanlyn-verhoudinge.
More