Gewoontes van HeiligheidVoorbeeld
Moenie Vergeet om te Onthou nie
Hoeveel van ons probeer so hard om iets te kry wat ons reeds het, soos byvoorbeeld heiligheid, wat die identiteit is waaruit ons leef en die roeping wat ons uitleef? As jy jou lewe vir Jesus gegee het, is jy reeds heilig. Die geregtigheid van Christus self is aan jou gegee. Jy het dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, wat binne-in jou leef, jou verseël, jou afsonder vir die ewigheid. Tog sit baie van ons vas in hierdie siklus om goedgesindheid en goedkeuring te probeer verdien, omdat ons vergeet om ons identiteit te onthou.
As jy nie weet dat 1 Petrus 2:9-10 sê wie jy is nie (uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, afgesonder vir God, eiendomsvolk van God), sal jy deur jou lewe gaan om iets na te jaag wat jy reeds het. Dit is presies wat jou vyand wil hê. Hy sal daarvan hou dat jy najaag wat jy reeds het in plaas daarvan om in te tree in die krag en roeping wat aan jou gegee is. Dit is nie 'n nuwe begrip nie. Trouens, dit was aan die begin 'n deel van die Satan se strategie om Adam en Eva te mislei. Kyk wat hy in Genesis 3 sê:
“Maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken" (Genesis 3:5).
Julle sal soos God wees, is die slang se lokaas. Die ironie is egter: Adam en Eva was reeds geskape na die beeld van God! Hulle is letterlik gemaak volgens sy beeld, gevorm deur sy hande, sy asem was in hulle longe, en hulle het daagliks saam met Hom gewandel.
"God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep" (Genesis 1:27).
Die Satan het vir Eva en haar man mislei om iets na te jaag wat hulle reeds gehad het: imago dei, die beeld van God. As mense, sukkel ons sedertdien om te onthou wie ons werklik is.
Dink net hoe, deur te vergeet wie ons is, ons siening van romantiese/seksuele verhoudinge verwring is. Daar is soveel seer en skaamte rondom hierdie onderwerp. Mense gaan verder as wat hulle ooit van plan was om te doen, want hulle is vasgevang in die soeke na liefde en goedkeuring wat hulle reeds in Christus het. Hulle gebruik hul liggame as 'n handelsartikel en gebruik ander mense op dieselfde manier as gevolg van hierdie verdraaide idee van waar ons waardes eintlik vandaan kom. Dit kom nie van wat ander mense van ons dink nie, maar van die beeld van God in ons.
Toe Jesus gekom het, moes Hy ons dus herinner wat dit beteken om mens te wees, en Hy het dit gedoen deur ons heilige God volmaak in die wêreld te verteenwoordig. Hy het ons vermoë herstel om ons Godgegewe identiteit uit te leef deur ons verhouding met ons Skepper te genees. Daarom is dit g'n wonder dat die skrywer van Hebreërs ons uitdaag om ons oë op Jesus gevestig te hou nie. Wanneer ons Hom werklik sien vir wie Hy is, sal ons onsself begin sien vir wie óns werklik is.
Aangaande hierdie leesplan
As volgelinge van Jesus word ons geroep om as heilige mense te lewe om sodoende ons heilige God te verteenwoordig. Heiligheid is nie 'n towerbestemming waar ons moet uitkom nie, maar die identiteit waaruit ons kan lewe. In hierdie leesplan kyk ons na sommige van die gewoontes wat ons kan toepas om ons te help om in heiligheid te wandel in ons persoonlike en aanlyn-verhoudinge.
More