'n Ouer se Gids tot 'n Nuwe Baba: Lyding en SelfsorgVoorbeeld

A Parent’s Guide to a New Baby:  Suffering and Self-care

DAG 3 VAN 5

Dit verg 'n dorpie

Vriendskappe in ouerskap is 'n groot en belangrike bron van selfsorg. Of jou persoonlikheid introvert of ekstrovert is, jy het betekenisvolle vriendskappe nodig met mense wat dieselfde pad as jy stap. As jy nie reeds 'n goeie ondersteuningsnetwerk het nie, is dit 'n goeie idee om ondersteuningsgroepe vir nuwe ouers by kerke in jou omgewing na te vors. Vriende sal jou onderskraag, ondersteun en help lag, te midde van al die veranderinge. 

Die dae na die koms van 'n baba kan eensaam raak sonder vriendskappe met ander mammas en pappas saam met wie jy kan gaan stap, wat jy kan oornooi vir koffie of speeltyd of bloot tyd saam deurbring om mekaar se vrae, laste en vrese te bespreek. Ek kan jou nie sê hoeveel desperate teksboodskappe ek in daardie eerste dae gestuur het om vir voorbidding te vra wanneer dit gevoel het of ons slaapterapie gruwelik misluk het, net om te hoor dat ons vriende maar in dieselfde bootjie was nie! Of dit nou is om 'n uitdagende dag of 'n opwindende mylpaal met mekaar te deel; ouerskap in gemeenskap is beslis meer pret!

Selfs nou dat ons kinders al ouer is, is ek baie afhanklik van speelafsprake vir kinders en aande om uit te gaan en tyd deur te bring saam met my vriendinne wat ook mammas is. My man, Craig, wat 'n introvert is, het dieselfde interaksie met ander volwassenes nodig, hoewel dalk minder gereeld as ek. Dit is belangrik dat julle as 'n paartjie tyd inruim om te bespreek hoe julle jul behoeftes aan volwasse-interaksie prakties kan inwerk. Ons het gesorg dat ons nie die ritme van 'n sosiale kalender misloop nie — hetsy dit 'n intieme aandete saam met 'n paar vriende of 'n aand uit saam met die hele groep was. Ons vriende hou my aan die gang, vul my hart en laat my gekoester voel. 

Moenie die gewigtigheid van eensaamheid onderskat wanneer dit met nageboortelike hormone en algehele uitputting gepaard gaan nie. Wees waaksaam vir mekaar se onthalwe. Jy mag die simptome moontlik nie in jouself herken nie, maar jou eggenoot sal en hulle kan dan voorstel: "Liefie, hoekom gaan jy nie vanaand saam met jou vriendinne uit vir 'n kuiertjie nie? Ek sal na die baba kyk." 

God se getrouheid om ons met betekenisvolle vriendskappe te seën, laat my sommer tranerig raak. (Ek maak nie 'n grappie nie, daar is trane op my sleutelbord!) Die paartjies met wie ons lewens op die ouerskap-pad gekruis het, is nou ons beste vriende. Hulle kinders het natuurlik ook ons kinders se beste maatjies geword! Dit is die soetste seën wat ek my sou kon indink. Ek glo God sal dieselfde voorsiening vir julle in plek laat val.

Begin nou reeds saam bid vir betekenisvolle vriendskappe in die volgende hoofstuk van julle lewens. Ondersoek opsies vir ondersteuningsgroepe vir nuwe ouers by die kerke in jul omgewing. Werk doelbewus aan moontlike vriendskappe wanneer jy ander ouers in jou woonbuurt ontmoet. 

Kyk dan hoe God op ongelooflike maniere in jul lewens gaan opdaag. 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

A Parent’s Guide to a New Baby:  Suffering and Self-care

Die koms van 'n baba verander alles. Dit is asof hierdie klein lewe die nuwe swaartepunt word wat die res van jou heelal in sy wentelbaan intrek. Dit is moeilik om jouself voor te berei op iets so onbekend soos die koms van 'n pasgeborene. Berei prakties en geestelik voor om te verseker dat jy gedurende een van die mooiste, maar ook moeilikste tydperke van jou lewe gedy, en dit ten volle geniet.

More

Baie dankie aan "Christian Parenting" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.christianparenting.org/