'n Ouer se Gids tot 'n Nuwe Baba: Lyding en SelfsorgVoorbeeld
Die huwelik, die geheime bestanddeel
Ek het geweet dat ek Craig lief het voor ons kinders gehad het. Ek sou egter nooit kon raai hoeveel meer ek hom kon liefhê en hoeveel nader ek aan hom sou voel na ons kinders se koms nie. Om jou eggenoot te sien ontwaak in hul rol as mamma of pappa, is een van die mooiste gewaarwordings in die hele wêreld. Nie net dit nie, hulle het gehelp om jou die beste klein geskenkie te gee wat jy ooit sal ontvang.
Die koms van kinders sal eienskappe in beide van julle na vore bring wat julle waarskynlik nog nooit vantevore van mekaar beleef het nie. Hoewel dit een van die lewe se mooiste seëninge is en sal sorg vir van die meeste pret wat jul ooit sal hê, sal dit ook een van die uitdagendste kopskuiwe wees wat jul ooit as paartjie sal ervaar. Om 'n kind te hê, verander alles. Dit sal al die maniere versterk en verbeter waarop julle mekaar reeds gedien en liefgehad het, en dit sal al die selfsugtige plekke in julle harte ontbloot en onder die vergrootglas plaas. Die geheime bestanddeel tot 'n gelukkige en gesonde gesin is om jul huwelik eerste te stel en deurlopend die nodige aandag daaraan te gee.
Terwyl beide van julle deurlopend ten volle gefokus gaan wees op die behoeftes van hierdie klein mensie, gaan daar tye wees wat jul beide afgeskeep gaan voel. Daar is 'n nuwe mensie tot jul verhouding bygevoeg en hierdie klein mensie het nodig dat absoluut alles vir hom of haar gedoen word. Dus is daar deurlopend groot veranderinge wat plaasvind wanneer twee drie word, of drie later vier word soos wat julle gesin pragtig uitbrei. Terwyl die lewe drasties verander, moet die twee van julle, wat hierdie reis saam begin het, mekaar nie afskeep nie.
Dit is belangrik om ter wille van jul huwelik se gesondheid toenadering tot mekaar 'n prioriteit te maak. Julle gaan 'n nuwe normaliteit as 'n paartjie moet vestig. Die lewe sal letterlik nooit weer wees soos dit vantevore was nie. Terwyl julle vantevore wel al julle aandag aan mekaar kon gee, sal die versorging van die nuwe klein mensie nou 'n groot deel van jul vermoëns en sorg vereis. Dus gaan julle saam moet sorg vir 'n nuwe normaal wat toenadering tot mekaar betref, te midde van 'n lewe saam met kinders en spesifiek met die koms van 'n nuwe baba.
Jul huwelik gaan verander en op verrassende maniere oor die volgende jaar blom. Die oorgang sal makliker wees deur bloot bewus te wees van die verandering wat gaan kom en dit vooraf met mekaar te bespreek. Met Christus as die middelpunt van jul huwelik, sal beide van julle sterk en bestendig kan bly te midde van die komende veranderinge. “'... n Driedubbele tou breek nie maklik nie” (Prediker 4:12b).
Nou is die beste tyd om julself tot mekaar te herverbind aan die beloftes om mekaar te dien, te versorg, te eer en te vergewe. In ouerskap is dit werklik so dat spanwerk die droom laat werk. Wanneer beide partye toegewyd daaraan is om vir mekaar te veg en seker te maak dat daar in mekaar se behoeftes voorsien word, sal beide partye ervaar dat hul behoeftes bevredig word. Julle twee is deel van dieselfde span, ongeag hoe moeilik die spel word. Hou aan om in mekaar te belê, hou aan om mekaar lief te hê en bowenal, hou Christus se voorbeeld van liefde in die middel van alles.
Aangaande hierdie leesplan
Die koms van 'n baba verander alles. Dit is asof hierdie klein lewe die nuwe swaartepunt word wat die res van jou heelal in sy wentelbaan intrek. Dit is moeilik om jouself voor te berei op iets so onbekend soos die koms van 'n pasgeborene. Berei prakties en geestelik voor om te verseker dat jy gedurende een van die mooiste, maar ook moeilikste tydperke van jou lewe gedy, en dit ten volle geniet.
More