Arme Ek! Voorbeeld
Laat Dit Vaar
Partykeer wanneer ek myself jammer kry, is dit omdat iemand iets gesê of gedoen het wat my verwagtinge teleurgestel of my gevoelens seergemaak het.
Sodra die “arme ek” of “hoe durf hulle?” gedagtes in my kop begin maal, is dit onvermydelik dat ek deur my eie wêreld en wat daarin gebeur, verswelg word. Ek word die middelpunt van my eie aandag, die ster van my eie ellendige vertoning. Ek dink aan niemand anders as myself nie. Wanneer ek met hierdie selfbejammering begin, het eiebelang in my oë te groot geword.
Romeine 12:3 het iets daaroor te sê: “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.”
Die oomblik wat ek toelaat dat die lewe se seer en onregverdighede my emosies beheer, dink ek te veel van myself. Selfbejammering kan tot bitterheid lei en dit kan baie gou die vrug van die Gees oorheers, wat eintlik my lewe moet oorheers.
Wanneer ek dus daardie “arme ek” gevoel kry, vra ek myself af: “Is daar iemand wat ek moet vergewe?” Ja, die lewe kan moeilik en deurmekaar wees, maar ek gaan nie toelaat dat daardie oomblikke my definieer nie. Ek gaan bo dit uitstyg en daarvan vergeet. Die vinnigste manier wat ek dit al kon regkry, was deur te vergewe en dit te laat vaar.
Markus 11:25 sê: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle [eie] oortredings vergewe.” Daardie vers omvat dit mooi.
Ek het besluit dat ek nie een of ander brose wese wil wees wat dopgehou moet word en waaroor ander bekommerd moet wees nie. Ek is ’n grootmens en ek kan sterk wees wanneer dinge onverwags na my kant toe kom. Ek is die een wat vergewe! Vinnig en maklik! Ek gaan in die Woord lewe, my skouers terugtrek, my kop hoog hou, vasbeslote die verlede agterlaat en vorentoe beweeg. Wil jy ook?
Aangaande hierdie leesplan
Het jy vandag teëspoed? Is jy deur iemand seergemaak, het jy siek geword, aan ’n gebrek gely of verpletterende terugslae ervaar? Dit is maklik om jouself in sulke tye jammer te kry. Maar God het ’n uitkomkans vir jou! Dit is tyd om op te hou met jou selfbejammering, op te staan, God se beloftes vas te gryp en om ’n oorwinnaar te word!
More