Sewe Dae van die Kersfeesverhaal: 'n Advent Oordenking vir GesinneVoorbeeld
Dag 3: Josef
Josef was 'n jong skrynwerker en verloof aan Maria, toe sy hom vertel het dat sy 'n baba gaan hê. Josef moes 'n belangrike besluit neem. Aangesien hulle nog nie getroud was nie en Maria swanger was, het Josef geweet die Joodse volk gaan dit nie goedkeur nie, dus sou Maria in groot moeilikheid wees. Omdat Josef baie vir Maria omgegee het, het hy 'n plan beraam om haar te beskerm deur stilweg hul verlowing te verbreek. 'n Engel van die Here het egter in 'n droom na Josef toe gekom. "Moenie bang wees om met Maria te trou nie," het die engel gesê. "Wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees."
God het Josef gekies om Jesus se vader op aarde te wees. Hoe fantasties is dit? Volgens Joodse kultuur sal nie baie mans 'n kind grootmaak wat nie hul eie is nie. Ongeag wat ander gedink het, was Josef 'n eerbare man. Met ander woorde, Josef het nie net gesê hy glo in God nie; hy het ook gedoen wat God wou hê hy moes doen. Josef het vir Jesus grootgemaak, Hom geleer om 'n skrynwerker te wees en was vir Hom lief met sy hele hart. Josef kon Maria verlaat het sodat sy alleen vir Jesus moes grootmaak. In plaas daarvan om te doen wat die mense om hom verwag het, het hy gedoen wat God wou hê hy moes. Gevolglik het Josef die wonderlike voorreg gehad om Jesus se pa te wees.
Gesinsaktiwiteit: Speel 'n speletjie wat eerbaarheid demonstreer. Neem twee stukkies papier. Skryf "Ja" op die een en "Nee" op die ander een. Verdeel die vertrek in twee met behulp van 'n tou of 'n stuk kleefband. Plaas die "Ja"-papier aan die een kant en die "Nee"-papier aan die ander kant. Elkeen kry nou 'n beurt om 'n situasie voor te stel wat iemand se eerbaarheid toets. Jy kan byvoorbeeld die volgende toneeltjie verduidelik: Pieter breek per ongeluk sy suster se skootrekenaar. Toe sy hom daaroor uitvra, sê hy hy het nie daarmee gewerk nie. Nooi nou jou kinders uit om na die "Ja"-kant toe oor te loop as hulle dink Pieter het met eerbaarheid opgetree of na die "Nee"-kant toe as hulle nie so dink nie. Vra dan: "Wat sou God wou hê jy moes doen?" Pas dit aan volgens hulle ouderdomme.
Gesinsbesprekingsvrae:
* Noem iemand wat jy ken wat gereeld doen wat God wil hê, selfs wanneer niemand dit verwag nie.
* Beskryf daardie persoon.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Dit wil voorkom of ons almal 'n lekker drukkie, werklike verbintenisse en iets nodig het om hier en nou met groot genot te kan vier. Ons bid dat hierdie Advent leesplan vir jou en jou gesin 'n geleentheid sal bied om weer bande met mekaar te smee, om te wete te kom van die ware Kersverhaal en Jesus se geboorte met nuwe tradisies, stories om die etenstafel, slaaptydstories, en gesinsaktiwiteite te vier. Ons vertrou hierdie Kersfeesdrukkie gaan in die Adventtyd pragtige herinneringe na jou huis toe bring!
More