Honger na GodVoorbeeld

Hungry for God

DAG 2 VAN 3

Slegs God kan Bevredig

As ewige geestelike wesens in tydelike, verganklike liggame, is ons geskape om te aanbid. Ons is na God se beeld geskape en hunker om aan ons Skepper en die Een wat ons die beste ken, verbonde te wees — net soos kinders verlang om aan hul ouers verbonde te wees. Ons wil behoort en deel wees van iets sinvol en betekenisvol, 'n saak wat ons eie ego, status, rykdom en roem oortref. Ons wil die doel waarvoor God ons geskape het, vervul en diensbaar wees sodat ander sy genade, barmhartigheid, vrede, vreugde en oorvloedige seën kan ervaar. 

Om hierdie soort voedsel vir ons siele te soek, beteken nie dat ons lewens maklik, gemaklik of vry van lyding gaan wees nie. Inteendeel, hoe meer ons bewus raak van ons begeerte om lief te hê, te dien en God te gehoorsaam, hoe meer dikwels moet ons die gevolge dra van om in 'n gevalle wêreld met sondige mense te leef. Jesus het selfs hierdie mense ingesluit in sy lys van seëninge, wat ons gewoonlik die saligsprekinge noem, en wat deel van sy bergpredikasie was: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word” (Matteus 5:6). 

Wanneer ons van binne leeg voel, kom ons dikwels in die versoeking om sake in ons eie hande te neem eerder as om te wag, te ly en op die Here te vertrou. In plaas daarvan om Jesus te volg en tot God te nader vir ons sielekos, swig ons voor versoeking en soek oombliklike bevrediging. Ek vermoed dat baie van ons emosionele stryde die gevolg is van ons pogings om geestelike voeding in 'n wêreldse dieet te vind. Ons jaag doelwitte, verhoudings, besittings en prestasies na, want ons glo dit sal ons gelukkig maak en tevrede stel. Wanneer ons dit bekom, ontdek ons die pyn is nog steeds binne-in ons. Die profeet Jesaja verduidelik eenvoudig en digterlik die geestelike hunkering en frustrasie wat ons voel wanneer ons pogings tot bevrediging nie slaag nie: 

"Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is"

— Jesaja 55:1–2.

Soos die profeet uitwys, kan ons niks koop wat ons tot so 'n mate sal bevredig soos wanneer God ons harte vul en ons siele voed nie. Dit is die soort voedsel wat al ons sintuie aanraak, sodat ons "versadig kan word met die beste wat daar is", wetend dat God se goedheid waarlik bevredig. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Hungry for God

Hierdie 3-dag leesplan, geskryf deur ds. Samuel Rodriguez, fokus op ons geestelike honger en die bewuswording dat ons siele op 'n gereelde basis voeding nodig het. Dit maak nie saak hoe dikwels ons bid, hoeveel Bybelverse ons bestudeer en memoriseer, hoe dikwels ons kerkgeleenthede bywoon of mense in nood bystaan nie, daar is altyd ruimte om nader aan God te groei.

More

Baie dankie aan Charisma House wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://samuelrodriguezbooks.com/