Vrug: 'n Onvergeetlike leweVoorbeeld

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

DAG 9 VAN 10

Die Vrug van die Gees: Sagmoedigheid

Galasiërs 5:22 AFR53: "Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing."

Hierdie is een van die vrugte van die Gees wat ons maklik verkeerd kan verstaan. Sagmoedigheid (nederigheid) was seker een van die vrugte van Jesus se lewe wat mense die meeste onkant betrap het. In Titus 3:4-5 praat Paulus van sagmoedigheid en die Here se genade in een asem. Sagmoedigheid het die vermoë om in die teenoorgestelde te funksioneer en teen dit wat die algemene reaksie sal wees. Ons sien die volgende eienskappe van sagmoedigheid in Jesus se lewe:


Moenie sagmoedigheid en swakheid met mekaar verwar nie.

Ons lees in Lukas 22 die gedeelte waar Jesus in hegtenis geneem word. In die hitte van die oomblik kap Petrus een van die soldate se oor af. 'n Normale reaksie sou wees om nie aandag aan die soldaat te gee nie, aangesien dit een van die mense is wat Jesus te na gekom het, maar Jesus is sagmoedig in sy reaksie. Jesus genees die soldaat se oor en gee Homself sonder geweld aan die soldate oor. Jesus was nie swak nie, inteendeel, Hy was sterk deur Homself oor te gee, want Hy het geweet wat regtig saak maak. Hy het geweet sy beloning aan die einde van sy kruisdood sou die lyding werd wees. Sagmoedigheid vra dat ons verby ons emosies kyk en soek na geleenthede om liefde te bewys, selfs aan dié wat ons te na kom. Dit verg ‘n baie sterk persoon om in liefde op te tree wanneer almal om jou om wraak skree.


Sien die waarde in mense ten spyte van die status quo

In Johannes 4 beweeg Jesus en sy dissipels deur Samaria. Die gebruik was dat Jode glad nie naby Samaria kom nie. Nie net beweeg Jesus en sy dissipels deur Samaria nie, maar Jesus begin gesels met ‘n Samaritaanse vrou. In die gesprek word die vrou geraak deur Jesus se sagmoedigheid en haar hele lewe verander. Sagmoedigheid word nie deur gebruike beheer nie, sagmoedigheid word alleenlik gedryf deur liefde. Sagmoedigheid sien die waarde van mense raak en hanteer hulle met liefde, ongeag wat die omstandighede is. Sien jy voortdurend die waarde in mense raak wat nie deur die wêreld raakgesien word nie?


Ontwikkel ‘n dik vel en baie liefde.

Jesus word regdeur sy lewe op aarde gebombardeer met opinies, haatspraak en bespotting. Tog word Hy nie gekenmerk deur sy wyse woorde nie, maar deur sy vermoë om aan te hou liefhê. Deurgaans is Jesus aan die kruis gespot en uitgetart, maar die liefde in sy hart was so groot dat Hy in sy sagmoedigheid die Vader gevra het om hulle te vergewe. Mense gaan altyd 'n mening oor ons lewens hê; hulle gaan wrede goed sê en uit onkunde optree. As sagmoedigheid een van die eienskappe van ons lewe gaan wees, moet ons leer om 'n dik vel en baie liefde te ontwikkel.

Deur genade kry ons nie die straf wat ons verdien nie. Deur sagmoedigheid word liefde bewys, al verdien ons dit nie.


Ons uitdaging vir jou vandag:

Hou al jou reaksies in toom sodat jy met sagmoedigheid kan funksioneer, want ‘n sagte antwoord laat woede bedaar (Spreuke 15:1)

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

Die Vrug van die Gees is ‘n studie wat ons begelei na ‘n ontdekking van God se karakter en hoe dit in ons lewens realiseer. Dit is eerstens die studie van Jesus se karakter. Dit is deur die Heilige Gees wat hierdie vrugte in ons wil groei tot dit ons mees natuurlike manier van lewe word. Hierdie ontdekkingsreis gaan jou begelei om ten volle in jou ware identiteit te leef.

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org