Vrug: 'n Onvergeetlike leweVoorbeeld

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

DAG 6 VAN 10

DIE VRUG van die Gees: Vriendelikheid

Galasiërs 5:22 AFR53: "Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing."

Vriendelikheid is meer as net ‘n oulike glimlag op ‘n mens se gesig. Vriendelikheid is ‘n vrug van die Gees wat die waarde van ander mense raaksien. Jesus het die volle prys van sy volmaakte lewe betaal om ons waarde vir Hom te verklaar. 


Johannes 3:16: "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê."


Vriendelikheid is 'n uitdrukking van die waarde wat Jesus aan mense heg (sy lewe) en Hy hanteer hulle volgens daardie waarde. 

Dit is dalk vir ons maklik om vriendelik te wees met mense wat ons nie ken nie of mense wat ons nie teleurgestel het nie. Wat wel moeilik is, is om vriendelik te wees met dié wat ons te na kom, dié wat anders as ons dink en doen. Dit is moeilik om vriendelik te wees as mense, soos kollegas, kinders, vriende, lewensmaats, nie volgens ons perspektief leef of besluite neem nie. 

Ons sien hoe Jesus na Jerigo reis en hoe baie mense hom loof en prys, maar dit was by Saggeus wat Hy gaan eet het. (Lukas 19:1-10) Die ander mense het Saggeus as ‘n leuenaar en dief beskou wat hulle geld steel. In hulle oë was die tollenaar ‘n bedrieër, maar Jesus het meer in hom gesien. Jesus het vriendelikheid aan Saggeus bewys. (Lukas 19:5) Die mense wat dit gesien het, was kwaad dat Jesus nie eerder by ‘n "goeie mens" gaan eet het nie.

Later sien ons Jesus was sy dissipels se voete, dien hulle, eer hulle, ondanks die wete dat Hy deur een van hulle wat om die tafel sit, verraai sou word.

Jesus wys ons ‘n lewe van vriendelikheid en goedhartigheid ongeag teenoor wie dit mag wees. (Lukas 6:33) 

Sulke vriendelikheid is die karakter wat die Heilige Gees in ons bou. Vriendelikheid is wie jy is, of jy voor ‘n Saggeus staan of Judas dalk voor jou staan.

Mag jy die goedhartigheid en die vriendelikheid van Jesus met mense deel. Mag ander deur jou vrug van goedhartigheid en vriendelikheid die Here se liefde beleef. Gaan deel die hart van Jesus met ander!


Ons uitdaging vir jou vandag: 

Wie is dalk ‘n Saggeus in jou lewe, skryf sy/haar naam neer?

Hoe kan jy soos Jesus, jou vriendelikheid of goedhartigheid aan daardie persoon bewys en uitleef?

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

Die Vrug van die Gees is ‘n studie wat ons begelei na ‘n ontdekking van God se karakter en hoe dit in ons lewens realiseer. Dit is eerstens die studie van Jesus se karakter. Dit is deur die Heilige Gees wat hierdie vrugte in ons wil groei tot dit ons mees natuurlike manier van lewe word. Hierdie ontdekkingsreis gaan jou begelei om ten volle in jou ware identiteit te leef.

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org