Vrug: 'n Onvergeetlike leweVoorbeeld

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

DAG 2 VAN 10

Die Vrug van die Gees: Liefde

Galasiërs 5:22 AFR53: "Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing."

Die eerste ding wat ons beleef wanneer ons die ware God leer ken, is LIEFDE! Ons glo volgens 1 Johannes 4:16 dat God LIEFDE is. Liefde sal dus ook die eerste gevolg van God se werk in ons lewens wees.

Jesus leer ons dat Hy die sigbare weergawe van God se karakter is. Dis hoekom Hy in Johannes 14:9 sê: "Wie My sien, sien die Vader." As ons dus die vrug van die Heilige Gees in ons lewens wil verstaan, moet ons begin by ‘n studie van Jesus self.

Kom ons kyk nou na liefde in aksie soos Jesus se lewe dit uitgebeeld het. Sy lewe openbaar nie net God se karakter nie, dit openbaar ook ons eie ware identiteit en potensiaal.

Die heel eerste ontdekking wat ons van Jesus se liefde maak, is in die WAARDE wat hy aan mense geheg het. Mense was vir Jesus belangriker as stelsels. Ons sien dit byvoorbeeld toe Hy iemand op die sabbat genees het en die wetgeleerdes nie kon glo dat Hy die sabbat breek nie, maar Jesus maak dit duidelik dat die sabbat vir die mens geskep is en nie anders om nie. Ons sien ook gereeld hoe Jesus omgee vir mense wat deur die samelewing verwerp is. Jesus het mense se individuele waarde meer erken as die godsdienstige stelsel van sy dag!

As ek en jy dan iemand liefhet, is dit omdat daardie persoon baie waardevol vir ons is. Liefde is ‘n intense emosie waarmee ons ons lewe aan ‘n ander vasgebind het. Ons sien ook hoe Jesus sy lewe vasgeweef het aan sy dissipels, hoe hy oor ‘n stad ween, en hoe hy omgee vir sy ma selfs terwyl hy gekruisig word.

Liefde eis opoffering. Jesus bewys sy liefde aan ons deur sy lewe wat Hy vir ons neergelê het. Liefde gee soos ons daarvan leer in Johannes 3:16! 

Ter opsomming: Liefde verklaar mense waardevol. Liefde verbind homself tot iemand anders. Liefde gee met opoffering.

Dit is hoe ons dus nou die eerste vrug van die Gees ontdek en verstaan. Ons word elke dag in ons huise en werkplekke en in ons land met die vraag gekonfronteer: Leef ek vanuit God se liefde? Kyk na hierdie uitdagende gedeelte:


Johannes 15:9-13: "Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee."


Liefde kom van die Vader. Ons ontvang sy liefde deur Jesus. Ons keuse is of ons daarin bly of nie. God se gebod, God se opdrag, bring die beloning van diepe vreugde en vervulling. God se opdrag is: Julle moet mekaar liefhê soos ek julle liefgehad het.


Ons uitdaging vir jou vandag:

Kry iemand in jou omgewing wat tipies deur die samelewing geminag word en doen iets wat hulle waardevol sal laat voel. Ons daag jou uit om vandag iemand wat eenkant staan, spesiaal te laat voel. 

Vind iemand vir wie jy iets kan doen wat slegs tot hulle voordeel sal strek. Dit is hoe die vrug van liefde prakties deur ons lewens sigbaar word!

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

Die Vrug van die Gees is ‘n studie wat ons begelei na ‘n ontdekking van God se karakter en hoe dit in ons lewens realiseer. Dit is eerstens die studie van Jesus se karakter. Dit is deur die Heilige Gees wat hierdie vrugte in ons wil groei tot dit ons mees natuurlike manier van lewe word. Hierdie ontdekkingsreis gaan jou begelei om ten volle in jou ware identiteit te leef.

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org