Fokus: 'n Ses-dag Interaktiewe Oordenking Vir Kinders, Oor Geloof Voorbeeld
Om Jesus Te Volg, Kan Beter Wees As Wat Jy Jou Kan Verbeel
Hou jy van storms? Verwonder jy jou aan donderweer, weerlig, wind en reën?
Miskien haat jy storms. Dalk laat dit jou sweet en jou maag rondomtalie draai.
Op die planeet Saturnus se noordpool, woed daar permanent 'n storm — en hierdie storm is nie klein nie! Dis 'n reuse planeet, dus is die weer daar baie erger as op die aarde. Hierdie ewigdurende storm is een van die grootste raaisels. Hoekom? Die storm is in die vorm van 'n perfekte seshoek.
As jy nie seker is wat 'n seshoek is nie, kan jy dit gou gaan google. (Vra net eers toestemming!) Kom dan terug.
Wetenskaplikes weet nie hoekom Saturnus se enorme storm die vorm van 'n seshoek het nie. Hier het ons 'n voorbeeld van iets waarvan wetenskaplikes baie weet, maar nie alles nie.
Daar is baie raaisels in die natuur waarvoor daar geen antwoorde is nie. Dit is ook 'n raaisel wat gaan gebeur wanneer ons lewens op aarde verby is.
Dit is seker nie 'n baie lekker onderwerp nie, of hoe? Dalk is dit omdat ons nie weet wat volgende gaan gebeur nie.
Tog vertel die Bybel ons van sommige dinge: God sal saam met sy mense in die hemel woon en Hy sal hulle God wees. Hoe wonderlik is dit nie?
Die lewe saam met God en sy familie in die hemel klink fantasties, maar hoe kom mens in die hemel?
Deur vriendelik te wees?
Goed te wees?
Te vergewe?
Dit klink dalk moeilik om in die hemel te kom, maar eintlik is dit baie maklik.
Om in die hemel te kom, moet jy in Jesus glo. Jy hoef nie volmaak te wees nie. Dink maar aan Paulus! Hy het eers gedink dat Christene die vyand was, tot hy self 'n Christen geword het! Paulus het geweet dat God se goedheid groter is as al die slegte dinge wat hy gedoen het.
Dit geld ook vir jou.
Jy moet net op Jesus, God se Seun, vertrou. (As jy nog nooit in Jesus geglo het nie — as jy nog nooit gevra het om deel van God se familie te word nie — moet jy definitief môre se oordenking lees.)
IETS OM TE DOEN
Neem 'n vel papier en iets om mee te teken. Teken nou 'n prent van hoe jy dink die hemel sal lyk. Hoe sal mense daar reis? Waar sal hulle woon? Wat sal 'n mens daar dra, doen en eet?
Onthou die volgende terwyl jy teken: om Jesus te volg, sal wonderliker wees as wat jy jou ooit kan voorstel, want dis ons geloof wat aan ons hoop op die hemel gee.
Aangaande hierdie leesplan
Om geloof te hê, beteken dat jy vertrou op wat jy nie kan sien nie, as gevolg van wat jy wel kan sien. Dit is moeilik. Hoe kan ons weet dat God werklik bestaan? Kan ons Hom vertrou wanneer slegte of angswekkende dinge gebeur? Wat as ons verkeerde dinge doen? Sal Hy ons vergewe? Met behulp van hierdie leesplan, sal ons van nader bekyk wat dit beteken om Jesus te vertrou (en hoe dit die lewe beter maak).
More