Wat is God Besig om te Doen?Voorbeeld

What Is God Doing?

DAG 5 VAN 5

FOKUS

Het jy al ooit probeer om vir 'n rukkie op iets te fokus? Hoekom is dit so moeilik? Ek weet nie van jou nie, maar ek het geen probleem om vir ure 'n Netflix-reeks te verslind, of om die hele dag aan een van my stokperdjies te wy nie. Maar om vir tien minute stil in 'n kamer te gaan sit en te probeer fokus op wat God in my lewe doen — dit is 'n stryd! Is dit net ek? Dit kan nie net ek wees nie. 

Die probleem in ons hiper-aandagafleibare kultuur is: om God te hoor, verg fokus. Ons het alreeds gepraat oor hoe die brandende bos en pratende donkie 'n eenmalige gebeurtenis was. As God in 'n fluisterstem praat, moet ons 'n manier vind om stil te wees, ons denke tot bedaring bring en te fokus. Hier is 'n paar idees wat jy kan probeer om met jou hart en verstand stil voor die Here te raak, lank genoeg om te hoor of te sien wat Hy in gedagte het.

Raak Ontslae Van Toestelle — Waar jy ook al gaan om alleen met God te wees, maak seker dit is 'n skermvrye omgewing. Enigiets wat biep, gons of jou waarsku, moet afgeskakel word (of verkieslik êrens anders gelos word.) As jy jou foon gebruik om die Bybel te lees (soos jy nou doen), stel dit op die vliegtuig- of moenie-steur-nie-instelling, sodat boodskappe of sosiale media kennisgewings nie gedurig sal probeer om God se stem te verdoof nie.

Probeer Beweeg — Sommige van ons is rustelose wesens en om te probeer om fisiek stil te sit, kan jou aandag op sigself aftrek. Ek het sommige wonderlike oomblikke met God beleef terwyl ek op 'n voetslaanpad gestap het. Dis (gewoonlik) nie nodig om vreeslik te fokus terwyl jy loop nie, maar dit gee jou liggaam iets om te doen, sodat jou verstand vry is om met God te praat. 

Afsondering — As ek probeer om regtig diep met God te verkeer en ek dink daar is selfs 'n moontlikheid dat ek onderbreek gaan word, dan belemmer dit my vermoë om te fokus. As dit met jou gebeur, beplan jou tyd en die plek waar jy is, baie versigtig. Miskien moet jy vroeër opstaan om jou jonger gesinslede te vermy. Miskien moet jy in die kas in jou kamer wegkruip. Ek ken nie jou spesifieke omstandighede nie, maar kies 'n tyd en plek waar jy weet jy onderbrekings kan vermy.

Hierdie lys kan aangaan, maar as jy sukkel om stil te word en op God te fokus, gaan dit regtig moeilik wees om van Hom te hoor of te sien wat Hy in jou lewe doen. Probeer gerus 'n paar van die bogenoemde wenke en as jy selfs net vir 'n paar dae daarmee volhou, kan ek dit amper waarborg dat dit makliker sal raak. As jy dit 'n gereelde gewoonte maak om na God te luister en om die werk wat Hy in jou lewe doen, raak te sien, sal dit jou geloof laat groei soos nog nooit tevore nie. 

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

What Is God Doing?

Dit is soms baie moeilik om iets raak te sien waarna jy nie op soek is nie. Wanneer dit by ons geestelike lewens kom, is God altyd aan die werk, kommunikeer Hy gedurig of beweeg Hy in ons lewens. As ons nie aktief daarna soek nie, sal ons ongelukkig totaal en al mis wat Hy doen. Oor die volgende vyf dae sal ons die sleutels begin ontsluit om te sien wat God in ons midde doen.

More

Baie dankie aan "Church of the Highlands" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: http://ccv.church/students