Vrede is 'n PersoonVoorbeeld
Vrede is om Heel te Wees
Die woordeboek verwys na vrede as vryheid van, of die beëindiging van enige konflik of onenigheid; of 'n wapenstilstand wat 'n tydelike ruskans van oorlog bring; rustigheid, stilte, kalmte.
Hierdie definisie is die begeerte van elke verhouding. Vir die ma breek die tydelike ruskans van oorlog aan wanneer die geïrriteerde kleuter uiteindelik 'n middagslapie vat of die buierige tiener skooltoe gaan. In 'n moeilike huwelik mag dit wees wanneer jou veeleisende huweliksmaat werk toe of op reis gaan. Toe vrede egter die mens se wêreld binnegekom het, het dit nie van oorloë, ineenstorting van verhoudinge of spanning ontslae geraak nie. Die werklikheid is egter dat probleme met ons verhoudinge erger as ooit tevore is onderwyl die bose en donkerte ons al meer vasdruk. Om vrede in ons verhoudinge te kry, moet dit van iets anders as tydelike oplossings kom.
Die Woord van God bied aan ons 'n verskillende definisie van vrede, naamlik die Hebreeuse woord, shalom.
Shalom is 'n toestand om volkome heel te wees; welstand van denke, siel en liggaam. Shalom bring vrede. Shalom is die maak van vrede.
Jesus se doel om na die wêreld te kom, was juis om vrede te maak. Sy lewe het kom demonstreer hoe om vrede te maak — deur altyd te gee, lief te hê en deur opoffering vir ander. Dit is nie eenvoudig en maklik om vrede te maak nie — dit is eintlik 'n duur proses. Om vrede te maak, vereis die dood. Jesus het sy lewe as die volmaakte Lam opgeoffer sodat ons vir ewig kan lewe, en wanneer ons sterf aan ons selfsugtige weë, kan dit tot vrede aanleiding gee.
Om vrede te maak is ook dikwels pynlik en vereis om dinge weer reg te stel — geregtigheid. Dit beteken om voortdurend aan jou eie-ek te sterf en doelbewus te lewe uit dit wat Christus vir ons gedoen het. Deur sy shalom, kan ons vrede in elke omstandigheid en verhouding bring, ongeag hoe moeilik dit is. Shalom sien die gebrokenheid en herstel dit om weer heel te wees deur ander met geduld en liefde te verdra.
'n Vredemaker is bereid om in gesprek te tree — om die nodige in waarheid en liefde te sê, eerder as om snedige opmerkings te maak of deur jou in seerkry en onvergewensgesindheid te onttrek. Om 'n vredemaker te wees beteken nie jy laat ander toe om jou te oorheers, of om versigtig op te tree uit vrees vir wat ander dalk kan sê nie. 'n Vredemaker praat wel altyd vriendelik, dog ferm, teen onreg teenoor ander en hulself.
Om vrede te maak is nie om 'n ander persoon verleë te maak, te vereis om jou siening van 'n saak te aanvaar, om ander te beheer of stil te maak nie. Gedurende konflik, gebruik 'n vredemaker nederige woorde van vrede en beweeg dapper na die ander om dinge reg te stel, eerder as om reg te wees. Om vrede te maak, skep die geleentheid om genade te bied en verskaf 'n plek van liefde en waarheid, eerder as om 'n standpunt te bewys.
'n Vredemaker is bereid om tussen twee partye stelling in te neem, waar dit dikwels onaangenaam en wanordelik is. In die geval van ons kinders, beteken dit om tyd af te staan vir 'n gesprek oor hul gevoelens en hul harte. Met ander, is dit gewilligheid om probleme openlik te bespreek, eerder as om dit weg te steek. 'n Vredemaker bou brûe in verhoudinge om deur sy shalom die vernietigende kragte van sonde en duisternis teen te werk.
Jesus bied 'n uitdaging en belofte in Matteus 5:9 waar Hy sê: "Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word." In 'n wêreld, gevul met tweedrag, konflik en vyandigheid, gee Hy ons die opdrag om deur sy vrede, vrede te maak.
Jou vermoë en sukses om met ander vrede te maak, begin daarby om ruimte te skep vir vrede in jou eie hart, want Vrede is 'n Persoon.
Aangaande hierdie leesplan
Is jy soekend na 'n lewe van vrede en beskerming teen die chaos van jou wêreld? Smag jy na 'n lewe waar alles glad verloop sonder onderbrekings en geskille? Dis ons almal se wens, maar hierdie idee is ver van die werklikheid af. Ontdek in hierdie 5-dag leesplan dat vrede nie die afwesigheid van probleme of moeilikhede is nie. Vrede is die aanwesigheid van Jesus. Vrede is 'n Persoon.
More