Vrede is 'n PersoonVoorbeeld

Peace is a Person

DAG 3 VAN 5

Die Potensiaal van Storms

Waarom lyk dit asof God nie in harmonie met ons lewens is nie? Ons waardeer 'n gladde, kalm see, baie dankie! 

Ons is lief vir gemak. Ons wil moeitelose dae sonder probleme hê. Ons soek na huweliksmaats en kinders wat nie stry nie, kollegas wat nie irriterend is nie en toestelle en voertuie wat nooit breek nie. Ons sien enige versteuring in ons skedule of agenda as 'n groot probleem. Ons, of diegene naby ons, moet seker iets verkeerd doen. Iets moet verander! 

Die ironie is, sonder storms en moeilikhede, het ons nie 'n behoefte aan vrede nie

Storms en swaarkry het groot potensiaal om ons te breek, ons uit te haal, ons van ons doel te laat afwyk, of ten minste, ons fokus te vertroebel. Ons onverbiddelike vyand loop nooit 'n geleentheid mis om sy leuens en beskuldigings te bring in verwagting om ons vrede te steel, ons vertroue dood te maak, en uiteindelik ons geloof te vernietig nie. 

Storms het egter ook die geleentheid om ons op te bou. Dit is in die storm wat ons kans kry om ons geloof te beoefen, in God te vertrou en ons liefde vir ander uit te leef. Verbasend genoeg, verg dit nooit geloof om saam te stem en te glo wat die vyand sê nie: Dit is te moeilik. Dit maak nie saak wat jy kies nie. Dink aan jouself! Dit is nie 'n stryd werd nie. Om teen bekommernis en besorgdheid vas te staan, verg vasbeslote aktivering van geloof en om te glo in wat God sê en doen. Ek kies om U te vertrou! Ek wag vir U om te werk. Ek glo dat U my sien en op die een of ander manier dit alles vir my ten goede sal laat uitwerk.

Wat kan gebeur as ons in plaas daarvan om die lewe se storms te vermy, eerder die moeilike omstandighede vierkant in die oë kyk? Wat as ons deur ons vrese vasbyt en ons beheer prysgee? Wat as ons hierdie moeilike tye as geleenthede vir geestelike groei en groter harte sien? Wat as ons gewilligheid om die moeilike tegemoet te stap, ons kinders en diegene om ons, dinge leer wat hulle nooit andersins sou leer nie?

Een somer, 'n rukkie gelede, het 21 lede van ons familie, tussen 5 en 65 jaar oud, Mt. Uncompahgre, 'n 4 361 meter hoë berg in Colorado gaan klim. Sommige dele was baie moeilik en het uitmergelende ure geneem. Baie kere wou ons moed opgee, ons het selfs bevraagteken waarmee ons besig was. Die piek het al hoe verder weg begin lyk. Die lug was al dunner en dit was moeilik om asem te haal. Daar was baie trane en klagtes. Dit is te moeilik! Wat as ons val? Wat as ons hier doodgaan? Tog het ons mekaar aangemoedig met klipharde slagspreuke, ek kan en ek wil! Uiteindelik het ons op daardie pragtige, wye uitgestrektheid gestaan wat gelyk het asof dit heel bo-op die wêreld was! Opgewondenheid, verligting, geluk, vrede! Ons het dit gemaak! Ons kinders en selfs ons kleinkinders het een van die moeilikste dinge bereik wat hulle ooit sou doen. Vir altyd verander deur die moeilikhede wat ons verduur het, het hierdie oorwinning ons tot vandag toe bygebly.

Berei jou hart voor om storms en moeilikhede te verwag, sodat jy nie onkant betrap word wanneer hulle gebeur nie. Deur sy vrede en teenwoordigheid, is jy ten volle toegerus met krag en moed om by die anderkant uit te kom. Namate jy gewillig in moeilike omstandighede instap en kies om hulle as geleenthede te sien om te groei, sal jy selfvertroue en innerlike krag uit sy onsigbare teenwoordigheid ontvang. Jou vermoëns sal soveel groter word as wat jy ooit gedink het moontlik is. Die belangrikste is dat jy diegene wat na jou kom, kan vertel dat hulle ook suksesvol deur hulle eie storms sal kom, nie deur hulle eie krag nie, maar met Vrede in hulle harte.

Elke storm wat ons teëkom het die potensiaal om ons te vernietig, maar Vrede belowe om ons harte en ons gedagtes te bewaar. Wanneer ons met moed die storm tegemoet gaan, met ons hand in Syne, sal ons net die dinge verloor wat ons moet afsterf: sonde, hoogmoed, negatiwiteit, kritiek, selfsug en gegriefdheid. Dit is dinge wat ons in diepe slawerny hou en ons daarvan weerhou om te wees wat God ons geroep het om te wees. Dinge wat moet doodgaan sodat ons ten volle in Hom kan lewe. 

Ek stel my voor dat ons vertroue in Jesus 'n glimlag op sy gesig bring terwyl Hy ons na vryheid aan die anderkant lei. Wanneer ons oë in ons diepste en donkerste storms op Hom gevestig bly, sal ons vrede hê, want Vrede is 'n Persoon. 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Peace is a Person

Is jy soekend na 'n lewe van vrede en beskerming teen die chaos van jou wêreld? Smag jy na 'n lewe waar alles glad verloop sonder onderbrekings en geskille? Dis ons almal se wens, maar hierdie idee is ver van die werklikheid af. Ontdek in hierdie 5-dag leesplan dat vrede nie die afwesigheid van probleme of moeilikhede is nie. Vrede is die aanwesigheid van Jesus. Vrede is 'n Persoon.

More

Ons wil graag Robin Meadows bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asb: https://www.amazon.com/Robin-Meadows/e/B081QMDFDR?ref_=pe_1724030_132998060