Groei: Eerste treë saam met JesusVoorbeeld

Groei: Eerste treë saam met Jesus

DAG 17 VAN 20

GEBED

‘n Verhouding met ons Vader in die hemel is gebaseer op gereelde gesprekke met Hom. Dink byvoorbeeld aan ‘n goeie vriendskap se kommunikasie. Daar is gereelde kort gesprekke en soms langer kuiers wat die verhouding verstewig. Kom ons kyk hoe Jesus na ons verwys as sy vriende:

Johannes 15:15: Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

Gebed is ‘n aktiwiteit van vriendskap, so gebed is bloot maar net 'n gesprek met God. Wat dink jy het Paulus bedoel met:

Bid gedurig? (1 Tessalonisense 5:17)

Ons almal gesels met onsself in ons gedagtes. As jy net elke sin in jou gedagtes met "Vader" begin, sal jy verbaas wees hoe normale gedagtes omskep word in gebed. Om gedurig te bid beteken dus nie ons gaan sit die hele dag onder ‘n boom en lees die Bybel en bid nie. Dit beteken eerder dat ons God betrek in ons daaglikse gedagtes. Soos ons in Engels sê: "Change your self-talk into God-talk!"

Jesus het ons dieselfde geleer toe hy in Matteus 6:9 genoem het dat al ons gebede  met "Ons Vader" moet begin. Jesus het ook vir ons gemodelleer hoe gebed ‘n noodsaaklike deel van sy verhouding met sy Vader was. Hy het ons die waarde van gereelde wegbreke gewys om dieper gesprekstyd met sy Vader te hê.

Matteus 6:6: Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Dit is duidelik dat gebed agter geslote deure nie net meditasie of oordenking is nie, gebed is verseker 'n gesprek met God. Dit klink vanselfsprekend, maar ons vind dat baie mense nog moet leer hoe om regtig met God te praat. 

Kom ek leer jou ‘n eenvoudige manier om ‘n lewe van gebed aan te leer. Ek hou daarvan om te bid terwyl ek die Bybel lees, want dit is ‘n baie goeie opsie vir ons om die Woord te bid. Kom ons gebruik Psalm 23 as ‘n voorbeeld. "Die Here is my Herder." Sit dan nou die woord, "Vader" vooraan: "Vader, U is my Herder." Dit maak onmiddelik wat ek lees, ‘n gesprek. Jy kan dan een stappie verder gaan en die Vader vra om jou te wys wat al die dimensies van sy herderskap in jou lewe is.

As jy die Woord gebruik as ‘n gebedsboek, sal jy die Heilige Gees die geleentheid gee om jou gedagtes vol te maak met God se gedagtes oor jou. Verder is dit ook ‘n baie goeie idee, om hierdie gebed uit die Woord te gebruik as toepassing op al die praktiese uitdagings van jou lewe. Byvoorbeeld: "Vader, U is my Herder, vir wat in my huis gebeur, en vir wat by my werk gebeur. Vader wees my Herder in my alledaagse lewe."

Laastens moet ons net ook gesels oor wat dit beteken om in die Naam van Jesus te bid.

Johannes 14:13: En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.

Ons hou daarvan om al ons gebede af te sluit met die stelling: "In die Naam vanJesus, amen." Die woord "amen" beteken bloot net "laat dit so wees". So, as ons bid in die Naam van Jesus, dan bid ons in lyn met sy doelwitte vir ons lewe. Dit gee ons die vrymoedigheid om enige iets te vra, want ons weet dat elke klein of groot ding wat ons vra, in lyn met God se bedoeling, tot vervulling sal kom!

Verklaring: 

"Vader ek dank U dat ek met U kan praat in elke oomblik van my dag."

Aksiestap vir vandag: 

Skryf ‘n eenvoudige gebed neer en lees dit hardop om solank te begin oefen om met God te praat.

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Groei: Eerste treë saam met Jesus

Is jy 'n nuwe Christen? Ons glo dat ‘n verhouding met God die hoof tema van al God se interaksies met die mensdom is. Hierdie is ‘n 20-dae ontdekkingsreis waarop ons jou wil neem. En dit kom uit ons passie vir mense wat die eerste treë neem, in hulle verhouding met Jesus. Hierdie leesplan is gebaseer op ons kursus en boek met dieselfde naam.

More

Ons bedank Doxa Deo vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://www.doxadeo.org