Groei: Eerste treë saam met JesusVoorbeeld
DIE LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES
Dit is duidelik in die Bybel dat Jesus die Heilige Gees nodig gehad het om te bereik wat hy moes. Dit behoort dan vir ons ook vanselfsprekend te wees dat ons die Heilige Gees in dieselfde mate as Jesus nodig het.
Handelinge 1:8: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
Hierdie is die belofte wat Jesus gemaak het en dit staan vas vir alle ewigheid, en natuurlik ook vir ons wat kinders van God is.
Die mense in die eerste kerk, soos in die boek van Handelinge vertel word, was besig om te bid en toe is almal vervul met die Heilige Gees. Wat verstommend is, is dat Petrus wat Jesus drie maal verloën het, toe skielik die vrymoedigheid en durf gehad het om voor duisende mense op te staan en om Jesus skaamteloos te verkondig. Dit wys ons hoe die bemagtiging van die Heilige Gees iemand kan verander.
Hoor nou wat preek Petrus na hierdie groot gebeurtenis in sy eie lewe:
Handelinge 2:38-39: En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar vêr is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Dis duidelik dat ons ingesluit is in die belofte van die Heilige Gees. My eie storie getuig van dieselfde ervaring, nadat ek die Here gevra het om my ook te vul met die Heilige Gees soos ek dit in Handelinge 2 gelees het.
Dit is hoekom ons jou vandag wil aanmoedig om jou Vader in die Hemel te vra om dieselfde vir jou te doen. Ons is oortuig dat die volheid van die Heilige Gees vir elke gelowige bedoel is. Jy is so welkom om na ons uit te reik sodat ons saam met jou in hierdie verband kan bid. Kontak ons gerus deur ons webwerf.
Die laaste deel van die bemagtiging van die Heilige Gees wat ons moet bespreek, is hoe Hy ons wil lei in al ons besluite. Ons glo dat gelowiges vanuit die fontein van die leiding van die Heilige Gees leef. Dit beteken dus dat ons lewe onder sy leierskapsinvloed in ons besluitneming is.
Galasiërs 5:25: As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.
Die beste plek waar ‘n gelowige kan funksioneer is onder die leierskapsinvloed van die Heilige Gees. Dit is hoe Jesus gefunksioneer het.
Verklaring:
"Heilige Gees ek begeer u leierskap in my lewe."
Aksiestap vir vandag:
Maak ‘n lys van die grootste besluite in jou onmiddelike toekoms waar jy die leierskap van die Heilige Gees sal benodig.
Aangaande hierdie leesplan
Is jy 'n nuwe Christen? Ons glo dat ‘n verhouding met God die hoof tema van al God se interaksies met die mensdom is. Hierdie is ‘n 20-dae ontdekkingsreis waarop ons jou wil neem. En dit kom uit ons passie vir mense wat die eerste treë neem, in hulle verhouding met Jesus. Hierdie leesplan is gebaseer op ons kursus en boek met dieselfde naam.
More
Ons bedank Doxa Deo vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://www.doxadeo.org