Ontwikkel Leierskap met Bybelse WysheidVoorbeeld
Vasbyt
Om jou leierskap te laat groei, is nie kinderspeletjies nie. Wat jy nie ten volle kan begryp van boeke wat jy gelees het, of mense na wie jy geluister het, of die bestuursgraad wat jy verkry het nie, is hoeveel pyn jy sal moet verduur om die leierskapspotensiaal wat in jou is, te bereik. Om met hierdie werklikheid vertroud te raak en die pyn wat daarmee gepaardgaan te aanvaar, is 'n onskatbare leerproses wat ons moet herken en waardeer. Een van my gunsteling skrywers, James Clear, stel dit so:
"Jy is slegs so geestelik sterk soos die lewe van jou vereis. 'n Maklike lewe is tevrede met denke wat maklike goed kan hanteer. 'n Uitdagende lewe ontwikkel denke wat 'n uitdaging kan hanteer. Net soos 'n spier wat verswak as dit nie gebruik word nie, sal jou verstandelike krag verswak, tensy dit getoets word. As die lewe jou nie uitdaag nie, daag jouself uit."
As ek terugkyk op my leierskapsreis, word ek gereeld herinner aan hoe noodsaaklik dit is om in moeilike omstandighede vas te byt. Wanneer alles egter te moeilik word en ons baie lyding ervaar, wil ons die handdoek ingooi en nie voortbeur nie. Ons wil tou opgooi en nie vasbyt nie. Ek verstaan dit baie goed. Ek kan persoonlik aan geleenthede dink toe ek nie deurgedruk het toe ek moes nie, en te gou moed opgegee het. Ek kon die foute agterna raaksien. Ek is nie perfek nie, maar ek kan erken, toe dit die meeste saak gemaak het, het my vasberadenheid, uithouvermoë, en die genade van God my gehelp om suksesvol te wees.
Deur watter omstandighede gaan jy op hierdie oomblik? Gaan jy deur uitdagende groeiprosesse wat meer frustrerend as vervullend is? As jy "ja" antwoord, beskou jouself as geseënd. As jy tans maar net voortdryf en nie eintlik uitgedaag word deur druk en wrywing nie, is dit dalk tyd om dinge 'n bietjie anders aan te pak. Begin 'n nuwe projek, besluit om 'n boek te skryf, leer 'n nuwe taal aan, kry jou meestersgraad of dien as lid van 'n nie-winsgewende organisasie. Ek skat jy kan alreeds aan iets dink.
Mense ervaar vasbyt op verskillende maniere, afhangende van die geleentheid. Wees bemoedig dat die slyping, uithouvermoë en stryd wat daarmee gepaardgaan, onskatbaar is. Om leierskap te ontwikkel, moet jy vasbyt en 'n paar Bybelse wyshede wag vir jou in die Woord van God.
Vader, laat my raaksien hoe U hierdie worstelinge vir my ten goede laat meewerk. Help my om nie weg te hardloop van my uitdagings af nie, maar eerder na U toe.
Aangaande hierdie leesplan
Dit is deesdae baie belangrik om jou leierskap te ontwikkel. Ons moet verbreed, vergroot, maksimaliseer en ons leierskapsvermoëns laat groei, sodat ons kan tred hou met ons immer veranderende omgewing. Tegnologie wat vinnig ontwikkel, werkgewer- en spandinamika wat verander en die wisselende ekonomie, is maar net party van die kwessies waarmee ons te doen kry. Moet egter nie dink dat leierskapsontwikkeling net vir die werkplek is nie. Ons moet ook ons leierskap by die huis en in ons verhoudinge ontwikkel. Begin vandag en kry praktiese, relevante leierskapsinsig.
More