Sag en Nederig: 'n 14-dag LeesplanVoorbeeld

Gentle and Lowly: A 14-Day Devotional

DAG 3 VAN 14

'n Medelydende dokter het diep in 'n oerwoud gereis om mediese sorg te verskaf aan 'n primitiewe stam wat deur 'n aansteeklike siekte geteister word. Sy mediese toerusting is per vliegtuig afgelewer. Hy het die probleem reg gediagnoseer, die antibiotika voorberei en beskikbaar gemaak. 

As 'n welaf dokter, het hy nie enige finansiële ondersteuning nodig gehad nie. Toe hy egter 'n aanvang wou neem om die siekes te behandel, het hulle dit van die hand gewys. Hulle wou na hulself omsien. Hulle wou genesing op hul eie voorwaardes ontvang. Uiteindelik, het 'n paar dapper jongmanne na vore gekom om die behandeling te ontvang wat gratis aangebied word. 

Hoe het die dokter gevoel? Oorstelp van vreugde. 

Sy vreugde het al hoe meer geword namate die siekes om hulp en genesing kom aanklop het. Dit was die enigste rede hoekom hy soontoe gegaan het. Hoeveel te meer as die siekes nie vreemdelinge is nie, maar sy eie familie? Net so is dit met ons, en ook met Christus.

Christus word nie verbouereerd en gefrustreerd wanneer ons na Hom toe kom om vergifnis, vir hernude begenadiging met nood en behoeftes en leegheid nie. Dit is die hele punt. Hy het gekom om te genees. Hy het afgedaal na die afgryse van dood, dit oorwin en opgestaan om aan ons 'n onbeperkte voorraad van barmhartigheid en genade te voorsien.

Wanneer jy om genade en liefde en hulp in jou angs en verwardheid en sonde na Christus toe kom, tree jy volgens sy eie diepste wense op, nie daarteen nie. 

Ons is geneig om te dink, wanneer ons tot Christus om hulp nader en in ons behoefte aan genade te midde van ons sondes, dat ons op een of ander manier aan Hom afbreuk doen of Hom verarm. As die ware God, kan Christus nie nog voller word nie — Hy deel in sy Vader se onsterflikheid en ewige, onveranderlike volheid. Dus word Christus se hart nie gedreineer deur ons toenadering na Hom nie — sy hart bly gevul wanneer ons na Hom toe gaan.

Anders gestel — wanneer ons terughou, in die skaduwees gaan skuil, beangs en te kort skiet, loop ons Christus se toenemende troos mis. Hy wil dit aan ons te gee. Dit is wat Hy graag doen. Sy vreugde en ons s'n daal en styg tesame.

Ons ongelowige harte trap hier baie versigtig. Is dit nie vermetel om na Christus se genade te verlang nie? Moet ons nie redelik versigtig wees om nie te veel van Hom te vra nie? 

Sou 'n vader wie se kind besig is om te versmoor wil hê dat sy kind die suurstoftenk redelik versigtig moet gebruik? 

Ons probleem is dat ons nie die Skrif ernstig opneem wanneer dit van ons as Christus se liggaam praat nie. Christus is die kop — ons is sy eie liggaamsdele. Hoe voel 'n kop oor sy eie vlees? Die apostel Paulus sê: "Hy voed en versorg dit" (Efesiërs 5:29). Dan het Paulus die uitdruklike verbinding met Christus gemaak: "... soos Christus met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is" (Efesiërs 5:29-30). 

Hoe versorg ons 'n beseerde liggaamsdeel? Ons verpleeg dit, draai 'n verband om, beskerm dit, gee dit tyd om te genees. Die liggaamsdeel is nie net 'n goeie vriend nie — dit is deel van ons. Net so is dit met Christus en gelowiges. Ons is deel van Hom. Dit is die rede hoekom die opgestane Christus vir Saulus, 'n vervolger van sy mense gevra het: "Waarom vervolg jy my?" (Handelinge 9:4). 

Jesus Christus is bly wanneer jy uit die rykdom van sy versoeningswerk put, want sy eie liggaam word genees.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Gentle and Lowly: A 14-Day Devotional

Verken Christus se hart vir sondaars en diegene wat ly deur elke dag 'n kort Skrifgedeelte te lees en oor 'n besondere aspek van die hart van God en van Christus te peins. Besef weereens nie net wat Jesus vir jou gedoen het nie, maar hoe Hy oor jou voel en deur dit te doen hoe jy diepgaande en blywend verander word.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/gentle-and-lowly-hcj/