Sag en Nederig: 'n 14-dag LeesplanVoorbeeld

Gentle and Lowly: A 14-Day Devotional

DAG 2 VAN 14

Kom ons kyk na Jesus. Volgens Levietiese kategorieë, is Hy die reinste persoon wat ooit die aarde bewandel het. Hy word beskryf as die "Rein Een". Ongeag watter afgryslike dinge ons laat ineenkrimp — ons wat van nature onrein en gevalle is — sal veroorsaak dat Jesus soveel meer ineenkrimp. Ons kan nie die absolute reinheid, heiligheid en suiwerheid van sy denke en hart begryp nie. Die eenvoud, die onskuld, die prag. 

Wat het Hy gedoen toe Hy die onreine sien? Wat was sy eerste reaksie toe Hy prostitute en melaatses teëgekom het? Hy het nie gehuiwer om na hulle toe te gaan nie. Jammerte het sy hart gevul, die intensheid van ware deernis. Hy het sy tyd aan hulle gewy. Hy het hulle aangeraak. Ons kan almal getuig van die behae van aanraking. 'n Warm drukkie doen iets wat 'n warm verwelkoming van woorde nie kan doen nie. 

Daar is egter iets dieper in Christus se deernisvolle aanraking. Hy het die Jode se stelsel omgekeer. Toe Jesus, die Skoon Een, 'n onrein sondaar aangeraak het, het Jesus nie onrein geword nie. Inteendeel, die sondaar het skoon geword. Jesus Christus se aardse bediening het aan onverdiende sondaars hulle menslikheid teruggegee. 

Jesus het die aarde bewandel en die onmenslike weer menslik gemaak en die onreine weer skoongemaak. Hartseer het Hom in elke dorp ingewag. Waar Hy dus ook al gegaan het, en Hy voor pyn en verlange te staan gekom het, het Hy sy reinigende genade versprei. 

Dit was egter toe Hy op die aarde gelewe het. Wat van vandag? 

Hier onthou ons die getuienis van die Nuwe Testament: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid" (Hebreërs 13:8). Dieselfde Christus wat by Lasarus se graf gehuil het, huil saam met ons oor ons eensame wanhoop. Dieselfde Jesus wat uitgereik het en aan melaatses geraak het, plaas sy arms vandag om ons wanneer ons voel dat ons verkeerd verstaan word en eenkant toe gestoot word. 

Die Jesus wat uitgereik het en onrein sondaars gereinig het, reik uit na ons siele en antwoord ons halfhartige gepleit om genade met die magtige onoorwinlike reinheid soos Een wat nie kan verduur om anders te doen nie. 

Met ander woorde, Christus se hart is nie ver van ons af nie, ten spyte van die feit dat Hy nou in die hemel teenwoordig is, want Hy doen dit alles deur sy Gees. Deur die Heilige Gees, raak Christus self nie net aan ons nie, maar lewe Hy in ons. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Gentle and Lowly: A 14-Day Devotional

Verken Christus se hart vir sondaars en diegene wat ly deur elke dag 'n kort Skrifgedeelte te lees en oor 'n besondere aspek van die hart van God en van Christus te peins. Besef weereens nie net wat Jesus vir jou gedoen het nie, maar hoe Hy oor jou voel en deur dit te doen hoe jy diepgaande en blywend verander word.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/gentle-and-lowly-hcj/