Waaroor gaan Paasfees?Voorbeeld
Ons Het 'n Redder Nodig Gehad …
Dinge het al hoe slegter gegaan. Nogtans het God voortdurend sy liefde aan hierdie wêreld bly gee. Hy het nooit met ons moed verloor nie. Hy het geweet ons het tyd nodig om te verstaan en die pad van liefde te volg wat Hy dwarsdeur die geskiedenis uitgekerf het om ons na Hom terug te lei.
Sonde het die wêreld wat God gemaak het, erg beskadig. Dit het oral die harte van mans en vrouens verwring. Bakleiery, haat, jaloesie, leuens, bedrog, diefstal en nog baie ander sondes, het die sondeskuld net meer en meer gemaak.
God het egter 'n plan gehad. Kyk na hierdie video om te sien wat God beplan het om vir die wêreld te doen. Wenk: Hy het 'n groot oorwinning — vir jou — in gedagte gehad!
Het jy die stukkie van die video gehoor wat sê: "Sonde is duur"? Wat sou dit beteken?
Duisende jare gelede het dit 'n familie duur te staan gekom toe God hulle gevra het om 'n gesonde, sterk dier vir hulle sondes te offer. Dit was 'n manier om mense se aandag te trek. Dit het hulle iets gekos. Dalk het God geweet dit sou hulle help om na te dink oor die invloed wat hulle sonde op die wêreld om hulle gehad het. Sonde bring dood, want die loon van die sonde is die dood.
Die offer het egter nie lank gehou nie. Die sondes het aanmekaar plaasgevind. Daar was net een manier om die prys te betaal vir wat sonde aan God se skepping gedoen het, maar mense kon dit nie betaal nie. Mense kan nie volmaak wees nie. Net God is volmaak. God was dus die enigste Een wat die prys vir die wêreld se sonde kon betaal. Hy het begin om bekend te maak dat Hy dit sou doen. Hy sou 'n Redder stuur. Iemand wat vir eens en altyd die prys vir almal se sonde kon betaal.
Vandag gaan jy sommige van die profesieë in die boek Jesaja lees, wat omtrent 700 jaar voor Jesus se geboorte geskryf is. Dit vertel die verhaal van 'n man wat deur mense verag en verstoot is, hardhandig behandel en doodgemaak is en in 'n ryk man se graf begrawe is. Dit sê ook dat Hy die straf vir ons sonde op Hom sou neem! Raai oor wie ons praat? Dis die Redder van die wêreld! Jesus!
Dis vreemd om te lees, want baie dinge is in die verlede tyd geskryf, maar dit praat eintlik oor dinge wat nog nie gebeur het nie. Die rede is, dat in die antieke Hebreeuse taal was daar nie 'n manier om in die toekomstige tyd te praat nie. Dit was nie 'n taal wat grammatikaal verskillende tye gehad het nie. Die Skrifgedeelte wat jy vandag gaan lees, is geskryf in wat ons deesdae die "profetiese tyd" noem. Dis dikwels gebruik om iets te beskryf wat beslis sou gebeur, asof dit alreeds gebeur het. Mense wat dit gelees het, het geweet dat dit nog nie gebeur het nie, as gevolg van die konteks waarop dit gebaseer was. Hulle het geweet dat dit na die komende Verlosser verwys, want daar was toe nog nie 'n Redder wat die sonde van God se mense gedra het, toe hierdie gedeelte geskryf is nie. Dit was goeie nuus. Dit sou egter lank vat voor die Redder sou kom.
Dis nog nie Paasfees nie, maar ons hoor al daarvan!
Vra jouself af: Hoekom is dit soms vir mense moeilik om te glo dat God se genade verniet is? Wanneer ek iemand moet vergewe, is dit maklik of wil ek eers hê die persoon moet sleg voel voordat ek hom vergewe?
Bid: Baie dankie, Here, dat U ons so liefhet dat U die prys vir ons sonde betaal het. Ons sal nooit daardie prys kan betaal nie. Dankie vir u vrygewigheid. U genade is absoluut wonderlik. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Eens op 'n tyd het 'n man sy eie dood voorspel. Hy het ook voorspel dat Hy net vir drie dae dood sou wees en dit was so! Jesus se dood en opstanding is die merkwaardige waarhede van die Paasverhaal. Christene vier nog steeds die dag. Wat beteken dit egter alles vir jou? Hierdie leesplan sal jou help om die geheimenisse van die prag van Paasfees te verstaan!
More