Wanneer Tragedie ToeslaanVoorbeeld
Lei in Deernis en Besorgdheid
Hoe moet ons reageer wanneer ons gekoesterde ideale, uit die bloute, ons gesin se huidige en toekomstige veiligheid en ook alle ander lewensdrome waarvoor ons gewerk en waarin ons belê het, skielik bedreig word? Terwyl ek oor hierdie vraag nagedink en gebid het, het dit vir my duidelik geword dat daar tog antwoorde is.
Eerstens moet ons met deernis en besorgdheid reageer teenoor diegene wat ly en diegene wat seer het. Sedert die koms van televisie is ons nie meer omstanders of verbygangers nie. Ons het deel geword van deurlopende gebeure en spelers wat deel van die aksie is. Hierdie medium kan ons ten diepste beïnvloed en deernis in ons wek wanneer ons sien hoe ander in ons wêreld swaarkry. Daar moet egter 'n groter rol vir ons wees as om net diep geroer te word deur dit wat ons op televisie sien en oor die radio hoor.
Wat is ons verantwoordelikheid?
Wanneer ons teenspoed ervaar, is dit gerusstellend om iemand te hê wat die pad saam met ons stap. Dit is vertroostend om te weet dat ons God, “... die God [is] wat in elke omstandigheid moed gee” (2 Korintiërs 1:3) en belowe het om ons nooit te versaak of in die steek te laat nie. Een van die dinge wat ons te midde van tragiese omstandighede kan doen, is om met deernis en begrip na ander uit te reik — om mense in nood by te staan en hulle te vertroos (Matteus 5:4). Ons moet in moeilike tye na ander uitreik. Deernisvolle mense is diegene wat die pyn van ander ervaar en optree om daardie pyn op enige manier te help verlig.
Terwyl ons in vertroosting na ander uitreik, wil ek jou egter ook daaraan herinner dat God ons grootste bron van troos is en altyd sal wees. Hy identifiseer met ons in ons hartseer en pyn, omdat sy Woord ons leer dat Hy "... 'n man van lyding [is] wat pyn geken het ..." (Jesaja 53:3). Hy verstaan ons unieke omstandighede, onsekerhede en vrese beter as onsself. Terwyl Hy ons in die moeilike tye van ons lewens vertroos, is ons dan beter toegerus om ander op ons beurt te help vertroos.
Mag ek vir jou wat ly, wat diep bedroef en seergemaak is oor die verliese in jou lewe, sê dat God jou bron van vertroosting en krag sal wees. Hy treur saam jou terwyl jy die laste van jou verliese dra en Hy deel die erge gevoel van leegheid en hulpeloosheid wat jy mag ervaar. Nietemin, te midde van daardie smart, verlaat Hy jou nie. Hy bly aan jou sy en bied jou sy genade in die donkerste dae, want dit is sy begeerte om jou hart te vertroos (2 Korintiërs 1:4).
Aangaande hierdie leesplan
Daar is geen beperking op wie tragedie kan ervaar nie. Vroeër of later sal almal die hartseer en probleme ervaar wat verband hou met skielike traumatiese gebeure wat die lewe vir altyd verander. Sluit by Dr. Charles Stanley aan wat jou nooi om God se medelye tydens krisistye te ervaar en jou sal help ontdek hoe jy moet reageer wanneer tragedie toeslaan.
More