Lewe Veranderd: DoelVoorbeeld

Living Changed: Purpose

DAG 4 VAN 5

Wagtende

Die eerste drie dae van hierdie leesplan het jou baie gegee om oor na te dink. Dit sal te verstane wees as jy oorweldig voel terwyl jy probeer om die kolletjies te verbind tussen dit waaroor jy passievol is, waarmee jy goed is en die moeilike dinge wat jy al oorkom het. In plaas daarvan om gespanne of behep daarmee te wees, kan jy die tyd koester terwyl jy wag. Miskien wil Hy jou iets leer voordat Hy sy planne aan jou openbaar. 

In my geval, moes ek leer hoe om myself deur die lens van God se waarheid te sien, voordat ek sy groter prentjie vir my lewe kon sien. Daar was te veel kere wat ek die leuens geglo het dat ek niks het om te bied nie en dit het my amper daarvan weerhou om te doen wat God wou hê. Toe ek in die bediening begin het, het ek gevoel dat ek nie genoeg van die Skrif ken nie en nie talentvol genoeg was om enigiets wat die moeite werd is, te doen nie. Ten spyte van my onsekerhede het ek God belowe dat ek my sal oorgee aan alles wat Hy my gee om te doen. Toe ek eers uit my gemaksone was en aangebied het om te dien, was ek verbaas om te vind dat wat ek kon bied, in aanvraag en nodig was. Die waarheid is dat niemand anders my ooit as onbekwaam of talentloos beskou het nie, allermins God. Tog het ek die leuens in my kop meer mag oor my lewe gegee as die waarheid van die Woord van God. 

Moses het ook gevoelens van ontoereikendheid verstaan. In Eksodus gebruik God vir Moses om die Israeliete van Egiptiese slawerny te bevry en gee dan vir hulle die Joodse wette wat hulle vir eeue daarna nog volg. Moses was een van die belangrikste leiers in die Israelitiese geskiedenis, maar toe God hom as leier geroep het, het Moses nie geglo dat hy vir die werk bekwaam was nie. Selfs toe God belowe het om by hom te wees, hou Moses vol hy is nie goed genoeg nie en vra vir God om iemand anders te stuur. Raak nou eers stil en dink daaroor na. Moses praat met die almagtige God wat nie aan tyd gebonde is nie, alwetend is, maar hom tog wil gebruik. Dit alleen moes genoeg gewees het om vir Moses vertroue te gee. Tog, hoeveel keer doen ons presies dieselfde?

Op die oomblik voel jy dalk onseker oor jou doel of selfs nie in staat om te doen wat jy voel jy gelei word om te doen nie. Jy kan egter die Woord van God glo wat sê jy het unieke gawes en talente. Miskien kan jy nie jou gawes herken nie, want vir jou lyk dit onbeduidend in vergelyking met iemand anders s'n, of dalk aanvaar jy dit as vanselfsprekend omdat dit vir jou so maklik is. Die waarheid is egter dat daardie dinge wat vir jou maklik is, nie dinge is wat almal kan doen nie. Wat jy het om te bied, is spesiaal en jy is bedoel om 'n belangrike rol in God se plan te speel. Vra Hom wat dit is.

As jy nie seker is hoe om van God te hoor nie, leer Hom ken. Lees sy Woord, die Bybel, elke dag. Ontwikkel 'n sterker gebedslewe deur met Hom te praat en na Hom te luister. Omring jouself met mense wat die beeld van Christus weerspieël. Werk aan 'n intieme verhouding met God, en binnekort sal jy sy stem kan onderskei wanneer Hy jou aanspoor. 

Wanneer jy verlore voel terwyl jy wag, fokus dan daarop om na God te luister. Leer wat Hy oor jou sê. Vra Hom om jou te help om die leuens raak te sien en by die naam te noem sodat hulle nie meer 'n aanspraak op jou het nie. Bedink hoe jy nou gehoorsaamheid in die klein dingetjies kan beoefen, sodat jy gereed is wanneer Hy meer openbaar. Vra Hom om vir jou te wys waarmee jy goed is, en wees dan bereid om alles wat jy het aan Hom te bied. Doen hierdie dinge terwyl jy op Hom wag, want dikwels is ons doel net anderkant ons bereidwilligheid om oor te gee en te luister.  

Vader, dankie dat U 'n spesifieke doel net vir my geskep het. Help my om myself deur u oë te sien en om al die leuens wat my kan terughou, van my af weg te werp. Help my om te glo dat ek wonderlik geskep is, na u beeld, en dat daar niemand anders soos ek is nie. Gaan voort om my te verfyn en my voor te berei vir die doel wat U vir my lewe het. Wys my die volgende tree wat ek moet gee om nader aan U te groei en te help om die ruimte te vul wat U vir my in u kerk gemaak het. In die Naam van Jesus, amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Purpose

Het jy al ooit gewonder vir watter doel God jou geskep het, of het jy Hom al gevra hoekom jy deur sekere ervarings is? Jy is uniek geskep vir 'n spesifieke rol wat net jy kan vervul. Selfs as jy verlore voel, of as jy huiwer om voort te gaan, sal hierdie 5-dag leesplan jou help om God te vertrou, sodat Hy jou na jou doel kan lei.

More

Ons wil graag Changed Women's Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.changedokc.com/