Noodsaaklikhede vir die LeweVoorbeeld
Goeie Besluite Stem Altyd Ooreen Met Die Woord van God
Wanneer jy 'n besluit moet neem, is die eerste en ideale toets: “Is my besluit in ooreenstemming met die Woord van God?”
Jy moet besluit wat jou hoogste gesag in die lewe gaan wees. Dit kom uiteindelik neer op 'n besluit tussen twee opsies: die Woord van God, of die wêreld. Gaan jy jou besluite neem op grond van wat God sê of van wat ander mense sê?
As jy jou lewe op openbare mening baseer, gaan jy altyd oudmodies wees, want dit verander daagliks. Wat gister “in” was, gaan nie vandag “in” wees nie en wat vandag “in” is, gaan nie môre “in” wees nie. As jy jou lewe op volkskultuur, politieke korrektheid of meningspeilings baseer, het jy nie waardes waarvolgens jy kan leef nie. Dit word 'n wankelrige fondament genoem!
As jy egter jou lewe baseer op die Woord van God, verander die waarheid nooit nie. Die waarheid is altyd waar. Wanneer God dus sê dat iets 10 000 jaar gelede verkeerd was, dan was dit ook 500 jaar gelede verkeerd, dis vandag verkeerd en dit sal 1 000 jaar van vandag af steeds verkeerd wees. Ek gee nie om wat meningspeilings of politieke korrektheid of die media sê nie. As God sê dis verkeerd, is dit verkeerd. Dit was altyd so en dit sal altyd so wees. As God sê dis reg, sal dit altyd reg wees. Dit is 'n stewige fondament!
God het die heelal met spesifieke wette geskep — liggaamlik, sedelik en geestelik. God het die heelal om hierdie wette gebou, nie omdat Hy wispelturig is nie, maar omdat dit alles tot jou voordeel is. Wanneer jy met die beginsels van die heelal saamwerk, sal jy suksesvol wees. As jy God se beginsels verwerp, daarteen rebelleer, ongehoorsaam is en dit ignoreer, is jy die een wat gaan seerkry. Jy mag nie God se wette verbreek nie. Dit sal jóú breek! As ek van 'n gebou afspring, breek ek nie die wet van swaartekrag nie. Dit breek mý. Dieselfde is waar van sedewette en geestelike wette. Jy kan nie net jou rug op God keer en daarmee wegkom nie. Daar is 'n onvermydelike oordeel wat sal volg. Enige tyd wanneer jy God se wette oortree, soek jy moeilikheid.
As jy al hierdie dinge in gedagte hou, kan jy verseker wees dat jy die regte besluit sal neem. As God sê dis goed, dan doen jy dit. As God sê: "nee", dan doen jy dit nie.
“U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad" (Psalm 119:105 AFR83).
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Daar is vyf noodsaaklikhede wat jy in die lewe moet hê om werklik te leef. Sluit aan by Pastoor Rick vir hierdie leesplan, waarin hy diep delf in die redes waarom jy krag vir die lewe, mense in jou lewe, beginsels waarvolgens jy moet leef, 'n lewensplan en 'n lewensdoel moet hê.
More