My Kind is Anders: Ondersteuning vir die Goeie en Slegte TyeVoorbeeld

My Child’s Different: Support for the Ups & Downs

DAG 8 VAN 8

Om Jou Woorde Te Gebruik 

Soms wil jy net gil, skree en huil (dalk sommer al drie terselfdertyd). Ander kere kan jy nie glo hoe geseënd jy is en kan jy God nie genoeg dank vir wat Hy aan jou gegee het en tot waar Hy jou en jou gesin gebring het nie. 

In beide gevalle kan dit moeilik wees om die regte woorde vir die omstandigheid te kry. Hoe vra ek op 'n toepaslike wyse vir die hulp wat my gesin nodig het? Hoe help ek my kind om ingesluit en aanvaar te word? Hoe behou ek my geduld en bewys genade aan die persoon en haar "raad" waarvoor ek nie gevra het nie? Ander kere gaan dinge werklik goed en jy wonder: Hoe kan ek wat ek geleer het met ander deel wat deur my verhaal gehelp kan word? Hoe kan ek God en my gemeenskap bedank vir die wyse waarop hulle daar was vir my en my gesin? 

Kyk na hierdie drie maniere hoe jy kan reageer in hierdie omstandighede.

1. Vra om hulp en raad. Jy behoort jou gevoelens, gedagtes, die hoogte- en laagtepunte van die lewe met betroubare vriende, familie, raadgewers, beraders, terapeute, dokters of ander wyse mense te kan deel. Dit is nie altyd maklik om uit te reik nie, maar ons het almal soms raad nodig. Ons het almal soms 'n skouer en hulp nodig. Jy moet net jou regte mense opspoor. Sluit by 'n Facebook groep aan. Begin 'n groepie by jou kerk wat mekaar ontmoet of net boodskappe stuur. Maak vriende. Die lewe is baie beter saam met ander, want ons is nie geskep om alleen voort te gaan nie. 

2. Wees 'n voorspraak vir jou kind en gesin. Die skool het weer gebel en dit lyk nie of hulle by jou kind se geïndividualiseerde leerplan hou nie. Jy het die teater gebel om navraag te doen oor toeganklikheid vir jou dowe kind en hulle vertel jou van hul rolstoel opritte. Hoe nou? Jou kind se helper daag nie hierdie week op nie en die kerk het nie 'n alternatiewe plan nie. 

Dit sou maklik en redelik wees om dit te verloor — jou humeur, geduld of verstand. Dit is egter 'n geleentheid vir jou om kalm en vriendelik 'n voorspraak vir jou kind en gesin te word. Haal asem. Stop 'n rukkie om jouself onder beheer te kry. Reageer. Neem standpunt in. Hergroepeer, en doen weer voorspraak vir wat nodig is. 

3. Praat bemoedigend. Jou verhaal, jou kind se verhaal, jou gesin se verhaal — dis alles mooi en belangrik. Elkeen kom met sy besondere verskeidenheid emosies, beproewinge en oorwinnings; hulle mag jou uitdaag en jou vermoëns van dag tot dag en oomblik tot oomblik strek. 

Moet egter nie vergeet om die mooi te soek en die prestasies en mylpale wat julle saam behaal het, te dokumenteer nie. 

Onthou jy van die joernaal inskrywings wat jy regdeur hierdie leesplan gemaak het? Hou vol daarmee. Skryf daarin van elke wyse waarop jy as ouer gegroei het. Skryf die mylpale wat julle behaal het neer. Skryf die verskillende maniere neer waarop mense aan jou en jou gesin vriendelikheid bewys het, klein en groot. Skryf jou gevoelens neer. Skryf oor die mooi dinge. Eendag sal jy bly wees hieroor. Dit sal jou help om die hoogtepunte te onthou in tydperke van laagtepunte. Dit sal jou herinner dat die somer wel kom, al is daar nou oral net sneeu. Dit sal ook vir jou baie makliker wees om God se getrouheid en goedheid wat jy ervaar het, met hulle te deel wat bemoediging nodig het.

Baie dankie dat jy vir ons, wat hierdie leesplan geskryf het, in jou lewe toegelaat het. Ons weet nog nie waar ons by jou aangesluit het in jou spesifieke reis as 'n ouer van 'n kind wat anders of gestrem is nie, maar ons voel geëerd dat jy ons in jou lewe, huis en hart toegelaat het. Jou roeping is nog steeds nie juis maklik nie, maar dis beslis een van die bevredigendste. Ons bid vir jou vrede, gemak en herstelvermoë namate jy voortgaan om elke oomblik te geniet en te koester op hierdie onverwagse, pragtige pad waarop God jou gevra het om te loop. 

Joernaal: Gaan kyk weer na jou eerste joernaalinskrywing. Het God jou ontmoet waar jy Hom nodig gehad het? Of het Hy jou in 'n plek ontmoet waar jy nie eens geweet het hoe innig jy sy teenwoordigheid nodig het nie? Hoe dit ook al sy, dank Hom. 

Verdere inligting hoe om 'n Goddelike lewe as voorspraak te lei

Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

My Child’s Different: Support for the Ups & Downs

Hierdie leesplan is bedoel vir ouers van kinders met gestremdhede, wat verskillend is of enige spesiale behoeftes het — ongeag waar jy jou in jou reis bevind. Lees wat ander ouers en ondersteuners sê hoe om die gevoelens te hanteer, die beproewinge aan te pak en die oorwinnings te geniet wanneer dit by ouerskap kom van 'n kind wat verskillend is.

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/