Koeke en terteVoorbeeld

Koeke en terte

DAG 4 VAN 7

Skoukoeke

Skoukoeke dien gewoonlik in die komitees van vroue-organisasies soos die VLU of die (ou) Dames Dinamiek en die ACVV. Hulle is trotse, hardwerkende vroue met goeie en standvastige waardes. Hulle voel die gemaklikste met ’n netjiese salonkapsel, los klere met groot blommotiewe daarop en praktiese loopskoene.

Hulle koördineer alles om die maksimum hoeveelheid werk in die minimum hoeveelheid tyd gedoen te kry, sonder om te sweet, eelte te kry of hulle kapsels te verinneweer.

Hierdie dames is deur die bank raakvatters wat skrik vir niks. Hulle neem graag leiding en inisiatief om ander vroue te bemagtig en te verryk. Hulle is die organiseerders en ko-ordineerders van vele damesoggende, skoubyeenkomste en fondsinsamelingsprojekte. 

Skoukoeke se grootste vrees is ledigheid of om stil te sit.

Skoukoeke is uitblinkers in huisvlyt – hulle bak en brou, hekel en brei, maak hulle eie klere, blatjang en konfyt en lê selfs hulle eie appelkose en vye in. Hulle slaan my (en baie ander vroue) se asem weg met hulle flatervrye wenkoeke en fyngeborduurde dooprokkies. 

Skoukoeke kry dikwels die bynaam “Hoofmeisie”. Hulle het dryfkrag. Hulle is gebore leiers en perfeksionisties ingestel op die fynste besonderhede. Hulle strewe altyd daarna om kop en skouers in hulle gemeenskap uit te blink. Hulle is ingestel op prestasie en stal ook graag hulle sertifikate en medaljes vir hulle wenkoeke en terte uit.

Hierdie dinamiese vroue se tyd en energie word oorwegend in dinge buite hulleself belê. Hulle voel hulle as vroue is waardevoller en kry meer erkenning wanneer hulle hulleself voortdurend dryf en iets konkreets in die hand het om aan ander te wys. Hierdie vroue is nie tevrede met die beskeie titel van ma en huisvrou nie, en hulle wys graag hulle talente vir die hele gemeenskap.

Ongelukkig het hierdie formidabele skoukoeke met al die selfopgelegde druk selde ’n vry oomblik (of hand) vir haar gesin tussen al die vergaderings, funksies en spoggebak waarvoor sy ma staan. Haar man en kinders word gereeld oor naweke warm gehou met ’n bordjie oorskietkos in die louoond, die skoothond en ’n spoggerige hekelkombersie oor die knieë voor die TV.

  

Stilwordtyd by God vir Skoukoeke

· Lees die Bybelgedeeltes hieronder in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:

o Wat het my getref? Bid daaroor.

o Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:

o Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?

o Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?

o Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Koeke en terte

Vir mense wat vir hulself kan lag. Susan Coetzer takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself en ander te leer waardeer.

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za