Koeke en terteVoorbeeld

Koeke en terte

DAG 3 VAN 7

  

Vrugtekoeke

My ouma het graag vrugtekoeke gebak. Sy het reeds maande voor Kersfees met dié taak begin. Sy het ’n verskeidenheid droëvrugte gekoop en in ’n kastrol op die stoof gekook. Daarna is die res van die ligter bestanddele by die vrugtepappery gevoeg en lank in die oond gebak. Die droëvrugte was oorheersend in die eindproduk en het aan die koek die kenmerkende donker kleur en digte tekstuur verleen.

My ouma het elke vrugtekoek vertroetel soos haar tuin. Die koeke is elke week met sjerrie bedruip sodat dit diep in die koek kon intrek. Daarna is die vrugtekoek met harde marsepein verseël om dit te preserveer. Die swaar vrugtekoek is dan in ’n blik gebêre, soms vir maande of jare voordat dit geëet is.

Vrugtekoeke is vir my ’n beeld van vroue wat baie emosionele bagasie met hulle saamdra, onder die masker van harde wit marsepein. Sulke vroue preserveer die trauma uit hulle verlede deur dit te vertroetel met die tyd en energie wat hulle daaraan afstaan, net soos my ouma met haar vrugtekoeke gedoen het om hulle vars te hou.

Die voorkeurkleur van die meeste vroue wat hulle verlede herleef asof dit vandag gebeur het, is swart of donkerbruin. Dalk is hierdie keuse van rouklere ’n weerspieëling van hulle innerlike emosionele barometer wat oor die jare heen nie verander het nie.

Ek kan dikwels die spore van onvergewensgesindheid lees soos ’n boek op die gesigte van hierdie vroue, sonder dat hulle ’n woord hoef te sê. Daar is ’n gebrek aan lig in hulle oë en gewoonlik ook donker kringe onder hulle oë. Ook hulle lyftaal verklik die swaar bagasie van die verlede wat hulle steeds met hulle saamdra – die krom skouers, die swaar sleepvoete, die mond wat nie maklik saamlag nie.

Party van hierdie vroue se verhale stuur koue rillings by my ruggraat af. Die pyn en lyding waardeur hulle is, is fel. En hulle beleef en herleef dit steeds in hulle gedagtewêreld. Ek kan hierdie vroue maar net druk en vir hulle bid en terapie en berading voorstel.

Iets wat die afgelope jare met ’n skok by vrouefunksies tot my deurgedring het, is hoeveel vroue se potensiaal ondermyn word deur dinge wat in hulle verlede verkeerd geloop het. Dis asof hulle in daardie traumatiese oomblikke versteen het. Selfs baie jare ná die gebeure kies hulle onwillekeurig of doelbewus om gedurig om te kyk en die pynlike dinge agter hulle met ’n vergrootglas te ondersoek, dit te dissekteer, vrae te vra en dit lewendig te hou in die gesprekke in hulle gedagtewêreld. Onder die marsepein hou hulle letterlik boek van al die ongelukkighede van die verlede (die droëvrugte) eerder as van die lieflike moontlikheid van vars vrugte voor hulle. Vroue wat vasgeval het in die moeras van die verlede kan selde hulle potensiaal en lewenstaak verwesenlik. Só speel hulle in die hand van die vyand – nog ’n gelowige wat hy gevange hou.

Wil jy van jou emosionele bagasie ontslae raak? Wil jy by ’n innerlike plek van vrede uitkom? As jy radikaal wil verander, ’n ligter vrou wil word, sal jy moet aanvaar wat gebeur het. Jou geskiedenis kan ongelukkig nie met ’n uitveër uitgewis word nie. Dit is deel van jou reis, maar dit hoef nie jou vooruitgang te beperk nie. Jy kán ’n nuwe hoofstuk van oorwinning aanpak, saam met die Here en saam met ander vroue wat die klippe in hulle verlede in edelgesteentes omskep het.

Stilwordtyd by God vir Vrugtekoeke

· Lees die Bybelgedeeltes hierbo in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:

o Wat het my getref? Bid daaroor.

o Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:

o Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?

o Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?

o Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Koeke en terte

Vir mense wat vir hulself kan lag. Susan Coetzer takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself en ander te leer waardeer.

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za