Versameling: Vind Saam Die LeweVoorbeeld
Hoe vind ek vriende?
Ons het vasgestel dat dit baie belangrik is om vriende te hê, omdat dit ons help om ons rigting in die lewe te kry. Om egter vriende te maak as jy 'n grootmens is, kan ongemaklik en eienaardig voel. Hoe vind 'n mens dan jou vriende?
Eerstens moet jy weet dat God getrou is om te voorsien. In 1 Johannes 5:14-15 lees ons dat ons met vrymoedigheid na God kan gaan, want Hy hoor as ons iets volgens sy wil vra. Deel van God se plan vir ons is dat ons mense in ons lewens sal innooi. Ons kan dus vertrou dat God vir ons vriende sal gee as ons Hom vra.
Jesus sê dat Hy soos 'n goeie ouer is wat nie vir sy kind iets slegs sal gee as hy iets vra nie. Bid dus dat die regte mense op die regte tyd in jou lewe sal kom. Terwyl jy bid moet jy luister na wat die Heilige Gees vir jou sê om te doen. Dalk loop iemand op kantoor by jou verby wat jy vir middagete kan nooi. Dalk moet jy iemand by die kerk wat saam met jou dien, beter leer ken.
Die saak staan egter so: om vriende te vind moet jy buite jou gemaksone beweeg en in gedagte hou dat verwerping soms onvermydelik is. Om werklik 'n plek in die lewe te vind waar jy tuis voel, moet jy bereid wees om 'n risiko te loop. Jy moet probeer, sonder om te weet hoe alles gaan uitwerk of wie jou gaan aanvaar. Onthou: die sleutel tot verbintenis is om die vrees vir verwerping tromp-op te loop.
Wanneer jy voel jy moet uitreik na 'n spesifieke persoon, doen dit! Jy weet nie of jy dalk ook die antwoord op hul gebed is om deel van 'n groep te wees nie.
Dink hieroor: Wie is sommige van die mense wat God in jou lewe geplaas het? Hoe kan jy buite jou gemaksone beweeg om 'n vriendskap met hulle aan te gaan?
Bid: Dankie God, dat U 'n goeie Vader is wat omgee vir elke deel van ons lewens. Ek vra vandag dat U mense in my lewe sal bring. Help my om die vrees vir verwerping te oorkom en ware vriendskap te vind. Gee my die moed om hierdie week iemand in my lewe in te nooi. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer jy 18 word, voel dit of jy jou lewe in orde moet kry. Wat as jy dit nie regkry nie? Die plek waar jy nou is, is dalk nie die plek waar jy gedink het jy nou sou wees nie. Jy is nie die enigste een nie. Kom ons beredeneer die lewe se belangrike vraagstukke in hierdie 7-dag leesplan vir jongmense deur Versameling van Life.Church.
More