Die Konstruksie Van Die TabernakelVoorbeeld
DIE STYLE VAN DIE TABERNAKEL
Die tabernakel se twee vertrekke, die Heilige en die Allerheiligste, was uit 48 style saamgestel wat van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek was (Ex 26:15-30; 38:8-38). Die twee vertrekke was saamgestel uit die regopstaande style of planke (akasiahout) wat met tentdoeke en dekklede van verskillende soorte materiaal toegemaak is. Elke styl het twee tappe gehad wat in twee silwervoetstukke ingepas het. Die style was oorgetrek met goud en is aan mekaar gehou met vyftien dwarshoute, ook met goud oorgetrek.
In die akasiahout vind ons dat die uitstaande kenmerk die duursaamheid daarvan is. Dit is geheel en al bestand teen enige klimaatsomstandighede. Deurgaans het ons ’n tweevoudige simbool: Christus en Sy tweevoudige natuur, menslik en Goddelik. Akasiahout spreek van Sy mensheid en die goud van Sy Goddelikheid. Tipologies spreek akasiahout hier dan van die volmaakte mensheid van Christus. Sy liggaam het ook nooit verderwing gesien nie (Hand 2:31). Die beeld is dus een van volmaakte, sondelose en derhalwe, onverderflike mensheid.
In Johannes 8:58 verklaar Jesus dat Hy vóór Abraham was, dus ook voor sy moeder. Dit toon dat Jesus se moeder Hom nie persoonlikheid of wese gegee het nie, want dit het Hy reeds gehad in Sy voorbestaan, maar wat Hy wel van Sy moeder ontvang het, was Sy menslike natuur.
In die akasiahout sien ons ook Christus in Sy vernedering. Want Hy het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond (Jes 53: 2).
Die style van akasiahout was met goud oorgetrek (Ex 26:29). Die hout was ’n afsonderlike materiaal naas die goud waarmee dit oorgetrek was. Die style het dus uit twee afsonderlike materiale bestaan. Die tweeledigheid van die style is ’n lieflike simbool van die Here Jesus Christus se twee nature – die Goddelike en die menslike saamgevoeg in een Persoonlikheid. Die akasiahout simboliseer Sy menslike natuur; die goud tipeer Sy Goddelike natuur. Die hout het nooit goud geword nie en die goud het nooit hout geword nie. Só is Jesus se twee nature ook afsonderlik van mekaar. Hoewel hierdie twee afsonderlike nature in Hom is, is Hy nie twee persone nie, maar een. Die Here Jesus Christus is ware mens – “die mens Christus Jesus” (1 Tim 2:5), en ook ware God – “die grote God en ons Verlosser Jesus Christus” (Tit 2:13). Die verborgenheid van hoe die twee afsonderlike nature mekaar komplementeer in een Persoon, is ’n bo-redelike verborgenheid.
- Jesus Christus se ware mensheid kan moontlik die beste in Sy menslike beperkthede gesien word. Hy was honger (Matt 4:2); Hy was dors (Joh 19:28); Hy was moeg (Joh 4:6); Hy het vaak geword (Matt 8:24); Hy het geween (Joh 11:35). In al hierdie dinge was Hy ware mens, tog het Hy op Godheid aanspraak gemaak.
- Jesus Christus se ware Godheid is deur die Vader erken. “U troon, o God (Christus), is tot in alle ewigheid” (Heb 1:8). In Johannes 8:58 sê Jesus vir die Jode: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.” Bo alle twyfel bevestig Jesus Homself hier as die “EK IS” van Israel en identifiseer Hy Homself as dié God wat aan Moses uit die brandende doringbos gesê het: “EK IS WAT EK IS” (Ex 3:14). Dit is wat Jesus bedoel het en dit is wat die Jode verstaan het, daarom wou hulle Hom stenig (Joh 8:59). (Sien ook Joh 5:18; Joh 10:30-36; Joh 20:28.)
Aangaande hierdie leesplan
Reg aan die begin van ons studie rakende die tabernakel moet ’n keuse gemaak word: Begin ons by die Allerheiligste soos ons sien die Bybel dit in Exodus 25 doen, begin ons by die silwerfondament van die tabernakel self, of begin ons by die voorhof, die buitenste omheining om die tabernakel? Ons begin ons studie oor die tabernakel by die silwerfondament van die tabernakelkonstruksie.
More
Ons wil graag bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/