Die Konstruksie Van Die TabernakelVoorbeeld

Die Konstruksie Van Die Tabernakel

DAG 3 VAN 10

CHRISTUS EN ONS VERLOSSING

Ons moet eerstens noukeurig op die volgende te let: God het elke Israelitiese man dieselfde geag in waarde, want elkeen moes presies dieselfde versoeningsgeld betaal – “die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ’n halfsikkel bring nie” (Ex 30:15). Silwer word hier genoem “versoeningsgeld” (Ex 30:16). God ag en skat elke sondaar na dieselfde waarde, gevolglik is die prys om te betaal vir elkeen presies dieselfde, vir die ryke en arme, vir die koning en vir die bedelaar, vir die grootste sowel as die kleinste. Omdat God nie ’n aannemer van die persoon is nie (Rom 2:11), het elke siel dieselfde waarde voor God. Silwer is simbolies van versoeningsgeld, verlossingsgeld en die prys vir ’n mensesiel (Ex 30:11-16). Slawe is vir silwer verkoop (Ex 21:32), Josef is vir silwer verkoop (Gen 37:28), Jesus is vir silwer verraai (Matt 27:1-9); so is dit ook jare vantevore deur die profeet Sagaria geprofeteer (Sag 11: 12 - 13).

Die gelowige is gekoop teen ’n prys – Jesus Christus het die prys, “versoeningsgeld”, betaal. Sy eie, heilige, sondelose bloed. (Sien ook Lev 17:11).

  • “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos”. (1 Petrus 1:18-19) 
  • “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het”.(Hand 20:28) 
  •  “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort”. (1 Korinthiërs 6:20)

Christus, die Lam van God, se verhouding met die mens berus op sy versoeningswerk, asook op Sy verlossing van die mens van die vloek van sonde (Gal 3:13). Op grond van die feit dat sonde in Christus gestraf is, en God tevrede gestel is (versoen is), kan God die sondaar wat hom tot die Here bekeer, nou ontvang en begenadig. As volmaakte mens het Christus gekom as ’n versoening vir ons sondes (1 Joh 2:2; 4:10). Sy sterwe in ons plek was die voldoening aan die vereiste van God se heiligheid en geregtigheid dat die siel wat sondig (Rom 3:23), moet sterwe. God se toorn is van ons afgewend en sodoende is ons nou losgekoop en verlos in Christus Jesus (1 Tim 2: 5 - 6).

Christus is dus die fondament (1 Kor 3:11) van ons ewige verlossing (versoening). Die tabernakel, wat ’n skaduwee is, rus op versoeningsgeld, die losprys ontvang van die kinders van Israel. Dit was ’n skaduwee, ’n beeld van die prys van verlossing en versoening, die kosbare bloed van Jesus Christus.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Konstruksie Van Die Tabernakel

Reg aan die begin van ons studie rakende die tabernakel moet ’n keuse gemaak word: Begin ons by die Allerheiligste soos ons sien die Bybel dit in Exodus 25 doen, begin ons by die silwerfondament van die tabernakel self, of begin ons by die voorhof, die buitenste omheining om die tabernakel? Ons begin ons studie oor die tabernakel by die silwerfondament van die tabernakelkonstruksie.

More

Ons wil graag bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/