Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 6 VAN 21

NIEMAND DINK JY IS SPESIAAL NIE

‘n Parskuip is ’n plek waar ’n mens druiwe uittrap om die sap uit te haal om wyn te maak. Dit moet altyd koel wees, want die druiwe moenie te gou gis nie. Daarom is dit gewoonlik onder ’n afdak of ’n koelteboom. ’n Lae, donker, weggesteekte plek. 

Koring word weer bo-op ’n berg of op ’n koppie uitgeslaan waar daar genoeg wind is. Jy slaan die plante dat die gerwe afbreek en die koring agterbly. Dan vat jy ’n groot vurk en gooi die koring in die lug op. Die wind waai dan die are weg en die swaar korrels val ondertoe. 

Iets aan hierdie prentjie in Rigters is dus nie reg nie. Hoekom sou Gideon koring uitslaan onder in ’n parskuip? Dis mos waar jy druiwe trap! Want hy was bang – hy het weggekruip vir die Midianiete. 

Israel het alweer ’n oorlog verloor en nou word hulle deur hulle vyande onderdruk. Kos is skaars. Gideon het geweet die vyande sou sy koring vat as hulle hom sien, en daarom slaan hy dit so skelmpies uit. Hy is eintlik glad nie ’n hero nie; tog praat die engel van hom as ’n “dapper man”! Hy sou nog eendag iets baie belangriks doen. 

As jy verder gaan lees, sal jy sien Gideon vra vir die engel, as dit dan so is, waarom gebeur al hierdie dinge? Waarom moet die volk so swaarkry? Dis presies wat ons ook doen! Ons het altyd ’n redenasie gereed. As die Here na jou toe kom en sê: Weet jy, Annemarie, jy kan ’n verskil maak in ’n tyd soos hierdie, dan antwoord jy vinnig: “Ag, dis nie waar nie! Ek is mos eintlik baie skaam. Wat kan ék tog doen?” Of jy het ander verskonings: Ek kan nie by die werk getuig nie ... Ek kan nie ophou sonde doen nie. 

Gideon sien homself as die onbelangrikste, swakste lid in sy pa se familie. Hy kan nie glo dat hy nou skielik moet hoor hy is ’n held nie. Wat dink jy moes die engel se reaksie op Gideon se woorde gewees het? Hy moes dalk antwoord: “Ja, weet jy, jy het ’n punt beet. My feite was verkeerd, ek het vergeet van die Midianiete. Jammer ek het jou gepla, gaan maar aan met jou gemiddelde lewe.” 

Onthou jy wat het met Maria gebeur? Die engel Gabriël het vir haar gesê: “Ek groet jou, begenadigde!” Maria was maar net ’n jong, “onbelangrike” meisie. Sy het geen status, geleerdheid of aansien gehad nie. Sy kon net soos Gideon ook gesê het dis ’n fout, dit kan nie sy wees van wie die engel praat nie. 

Het jy al daaraan gedink dat jy dalk ook so genoem word? “Geseënde” of “geliefde” of “buitengewone vrou”. Sjoe, dis ongelooflik! Die groot probleem in die lewe is dat hoe jy jouself sien en hoe God jou sien, is nie dieselfde nie. Nie omdat dit nie waar is nie, maar omdat jy nog nie sien wat jy kan wees nie. 

Gewoonlik wonder ’n mens altyd heel eerste: Gaan ek die krag hê om te kan aanhou en volhou, al dink almal ek is ’n bietjie vreemd? Dis wat Gideon en Maria ook gedink het. Maria was verward en ontsteld toe sy die engel se woorde hoor. Jy mag miskien ook nou so voel. Dit moet jou so ’n klein bietjie uit jou comfort zone uit neem om te hoor jy is spesiaal. Jy word dalk iets heel anders genoem as wat jy nog altyd geglo het jy is. Onthou, as jy geroep word om buitengewoon te leef, sal daar altyd ’n bietjie vrees betrokke wees. Dis wat buitengewoon beteken: jy is anders, ’n bietjie stroomop. 

Onthou jy nog daardie dag in graad 10 toe die juffrou in die klas gevra het wat julle na matriek wil word? Het iemand in jou klas gesê hulle wil net gemiddeld wees? Seker niemand nie. Almal wou iets spesiaals gaan doen. 

Jy wou tog nie eendag ’n gemiddelde motor ry en ’n gemiddelde werk hê en in ’n gemiddelde huis bly nie! Daarom spandeer jy vandag meer geld aan ’n motor met kragstuur of jy koop kos by Woollies. 

Ongelukkig werk die lewe ’n bietjie anders. So nou en dan kom die duiwel en takel jou af. Dan begin jy later glo jy is niks uitsonderliks nie. Jy raak deel van die rat race en jaag net om te gaan werk en rekeninge te betaal, nes almal om jou. Dink ’n bietjie wat sou jy vir jou tiener sê wat by die huis kom met die woorde: “Aag, almal doen dit!” Seker iets soos: “Maar jy is nie almal nie, jy is anders, jy is Pieter!” Dis presies wat jy vir jouself ook moet sê. 

Jy het nou die beste kans om ’n lig te wees vir die bang mense om jou. Onthou, om buitengewoon te wees, hoef jy nie altyd iets buitengewoons te doen nie, dit gaan oor wie jy aan die binnekant is. Die goeie nuus is jy moet net gehoorsaam wees. Gee van jou tyd, jou lewe en jou talente en wees net beskikbaar om te dien. 

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/