Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 9 VAN 21

NET PARTY MENSE KRY BOODSKAPPE UIT DIE HEMEL

1 SAMUEL 3:8-9

Dink net as jou kinders elke keer as hulle iets wil doen, eers vir jou kom raad vra. Dis seker enige ouer se droom! Net so smag jou Pa ook daarna dat jy Sy raad moet vra. Maar soms wil jy eerder onafhanklik wees en jou eie kop volg. 

Die verhaal van Samuel was een van my gunsteling stories toe ek ’n kind was. Samuel het in sy bed gelê en gehoor iemand roep hom. Hy hardloop toe na die priester, Eli, toe, want hy het gedink dit was hy wat hom geroep het. Hy was nie seker wie se stem dit was nie. 

Ek kan onthou hoe ek as klein seuntjie in die bed gelê en wag het dat ek ook ’n stem uit die hemel hoor. Maar ek het nooit gehoor: “Andries, Andries!” nie. Tog het
ek al baiekeer in my lewe ’n sagte stem in my gedagtes gehoor wat met my praat. 

In hierdie verhaaltjie kan ons sê Eli verteenwoordig op ’n manier die kerk. Die kerk is soms bang dat mense sal sê: “Ek het by die Here gehoor ...” Want as Sannie en Jannie en Koos elkeen iets anders hoor, sal dit mos chaos wees! Vir jare het dit in kerke gegaan soos in hierdie storie: Net die belangrike mense kon “hoor” wat gedoen moes word en die gemeente moes, soos Samuel, doen wat vir hulle gesê is om te doen. Baie mense kry fantastiese planne, maar sodra hulle dit na die kerkleiers bring, word hulle afgejak. Dan sê iemand daardie persoon is nie goed genoeg of geleerd genoeg nie; net sekere mense is goed genoeg. 

Hiermee bedoel ek nie almal moet sommer net blindelings stories opmaak en sê hulle het dit uit die hemel gehoor nie. Onthou, jou identiteit, jou karakter en jou verlede speel ook ’n rol in hoe jy iets interpreteer. Dis hoekom dit so belangrik is om ander gelowiges te hê wat saam met jou kan gesels oor wat jy gehoor het. Ek dink dis hoekom kleingroepe so belangrik is. Ons moet mekaar help om ’n beter “oor” te kry. 

Daar is soveel geraas wat by ’n mens se ore ingaan. Jy hoor elke dag ’n klomp geluide oor die radio, die TV of op jou iPod. Jy dink dalk as die Here regtig iets vir jou wil sê, sal Hy alles stilmaak. Maar dit werk nie so nie. Jy moet ’n slag self die TV en die musiek afsit en iewers stilte opsoek. Luister is die begin van alles. Die grootste gebod het begin met: “Luister, Israel ...” 

As jy nie die regte dinge hoor nie, en as jy nie luister nie, dan verdwaal jy in die doolhof van die lewe. Jy jaag soms na goed wat jou nêrens gaan bring nie. Onthou,
jy wórd dit waarna jy luister. Watter werk of roeping of betekenis soek jy in die lewe? Jy gaan dit nie op ’n ander manier kry as om te luister nie. 

Nou kom ons by die groot vraag: Hoe weet jy of dit die regte Persoon is wat met jou praat? Dis maklik. Dink net hoeveel keer kry jy ’n gedagte om iemand te bel om te hoor hoe dit gaan. Dalk wil jy net sê jy dink aan hom of haar. Maar jy is te besig en jy dink jy sal dit later doen, en later waai dit weer by jou gedagtes uit. Jy moet leer om dadelik te reageer wanneer jy so ’n sagte fluistering in jou binneste hoor. Daarvoor moet jou hart “sag” wees. 

Ek het al agtergekom iets wat my hart “hard” maak, is as ek te besig en te gestres is. My kop is gewoonlik vol van ’n duisend dinge wat nog moet gebeur. En as daardie sagte prikkeling kom, dan dink ek: Nie vandag nie, ek sal môre. Maar môre is dit net nie meer dieselfde nie. 

Dis nie nodig om altyd geld te gee of groot goed te doen nie. Hier is ’n uitdaging: Dink waar kan jy vandag net 10 minute gee van jou lewe. Alles begin by jou hart en by die regte gesindheid. As meer mense hierdie houding het, sal dit ’n groot verskil maak. Dan sal almal liefhê soos hulle moet, en gee wat hulle móét gee. 

Een van die groot probleme wat maak dat ons sukkel om te luister, is omdat ons nie kan raaksien wat ons alles kry nie. Israel is uit Egipte gelei na die beloofde land. Maar wat ’n kort, vinnige roete sou wees, word toe 40 jaar – net omdat hierdie beginsel nie nagekom is nie. Die volk het wel na die Stem geluister om uit die land van verdrukking te kom. Maar toe hulle eers in die woestyn is, en daar is allerhande toetse, wou hulle nie verder luister nie. Hulle het niks waardeer wat hulle gehad het nie. 

Hunker jy na ’n lewe wat sin maak en wil jy graag ’n verskil maak? As jy agterkom die lewe werk net nie uit vir jou nie, is dit dalk omdat jy nie genoeg stil word en luister nie. 

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/