Pa’s en seunsVoorbeeld
GEE HOM KREDIET
Die grootste oneer wat jy enige jong man kan aandoen, is om vir hom te sê jy vertrou hom nie. Dit knak ’n jong man baie vinnig. Begin dus reeds op ’n jong ouderdom vir jou seun verantwoordelikhede gee. Laat hom help om die rekeninge te betaal. Wys vir hom wat dit kos om ’n bakkie of ’n motorfiets wat hy gebreek het, te herstel. Dan sal hy nie aanhou om goed te breek nie.
Wys vir hom wat dit kos om ’n koei te verloor, omdat niemand daar was om haar te help toe sy gekalf het nie. Wys hom wat gebeur wanneer hekke nie reg toegemaak word nie en die koeie net voor oestyd in die mielielande beland, en die helfte van die oes vernietig word. Laat hy verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar en self ’n paar slapelose nagte beleef. Wanneer ’n brand uitbreek en deur jou plantasies woed, neem hom saam, sodat hy kan sien wat gebeur. Moenie jou seun teen die lewe se aanslae beskerm nie. Veg saam met hom. Hy sal jou sy lewe lank daarvoor bedank.
Kort nadat ons begin boer het, het daar ’n brand op ons plaas uitgebreek. My oudste seun, Andy, was toe ongeveer nege jaar oud. Ek het een trekkertjie met ’n bitter klein watertenk agter-op gehad. Ons het probeer om die veldbrand daarmee te blus. Skielik het die wind gedraai en ek was omring deur vlamme. Ek kon die trekker uit die brand wegkry en het dadelik die bande natgespuit sodat dit nie vlam vat nie. Deur die genade van God kon ek uit die brand ontsnap. Toe ek opkyk, sien ek Andy by my op die trekker se buffer sit.
Later, nadat alles verby was, het ons op ’n groot rots gaan sit en oor die landerye uitgekyk. Die brand was geblus en het klaar uitgewoed. Al die werkers het uitgeput daar rondgesit. “Andy,” het ek gesê, “hoekom het jy nie weggehardloop toe jy sien die wind draai en die vlamme is reg rondom die trekker nie?”
“Ek wou by Pa bly,” het my seun geantwoord. “As ons sou brand, sou ons saam brand.” Ek sal nooit sy woorde vergeet nie. Hy is vandag ’n uitstekende boer. Verantwoordelikhede maak hom nie paniekerig nie. Gevaarlike situasies laat hom nie kop verloor nie. Hy kan hierdie soort situasies kalm en rustig hanteer.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
God het pa’s gemaak om die priester, profeet en koning van die huis te wees, asook ’n voorbeeld vir hulle seuns. Angus Buchan moedig pa’s aan om die verhouding met hulle seuns te slyp, te beskerm en te koester, en terselfdertyd ook seuns om hul verhouding met hulle pa te koester. So word ’n belangrike gesinsband versterk, wat ’n groot impak het op die wyer samelewing.
More
Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan: https://www.cumbooks.co.za/