Toegang Tot Die TabernakelVoorbeeld
DIE INGANG (DEUR) VAN DIE TABERNAKEL
Hierdie ingang was aan die oostekant van die tabernakel. Daar was net een ingang (Engels: door) wat tot die heilige plek gelei het, en dit was deur die gordyn wat voor die tabernakel gehang het. Dít was die deur of eerste voorhangsel, wat na die eerste heiligdom gelei het. Ons lees van dié ingang van die tent in Exodus 26:36-37; Hebreërs 9:2-3.
In hierdie eerste heiligdom of heilige plek kon net die priesters ingaan. Dienswerk en gemeenskap is die hoofgedagte hier. Die mates van die ingang van die tent was twee maal die hoogte van die poort, en die helfte van die poort se breedte. Die verskil is belangrik. Die poort van die voorhof was wyd, maar die deur van die heiligdom (ingang) was nou. Die poort was vir almal, terwyl die deur net vir die priesters was.
Die bedekking vir die ingang van die tent (tabernakel) het aan vyf pilare van akasiahout gehang. Die pilare was heeltemal met goud oorgetrek. Die kramme waaraan die bedekking hang, moes ook van goud wees. Die voetstukke van die vyf pilare was uit koper gegiet.
Die tweevoudige natuur van Christus word in hierdie vyf pilare vir ons tekenend in die hout (mensheid), en goud (goddelikheid). Die poort van die voorhof het vier pilare, maar die deur na die heiligdom het vyf pilare. Vyf is die getal van genade. Alleenlik diegene wat die genade van God deelagtig geword het, mag die heiligdom binnegaan. Aan die ander kant van die deur is die tafel met die twaalf toonbrode (gemeenskap met Christus); die goue kandelaar (lig en getuienis); en die goue reukaltaar (lof, aanbidding in gebed).
Die voetstukke van hierdie pilare was van koper en nie silwer nie, omrede die pilare as deel van die voorhof geag is en nie as deel van die tabernakel nie. Hulle was nét buite die tent van die getuienis geposisioneer. Ons word dus deur hierdie kopervoetstukke herinner aan die offer wat Jesus Christus moes bring om die oordeel van sonde oor ons weg te neem. Hier sien ons die letsels van oordeel wat Jesus vir ons gedra het sodat ons die heiligdom mag betree.
Aan hierdie vyf pilare het die eerste voorhangsel gehang. Hierdie bedekking was gemaak “van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk” (Ex 26:36).
Hierdie kleure van die bedekking spreek tot ons van Christus.
Aangaande hierdie leesplan
In hierdie plan sal ons die omheining en die hek deeglik ondersoek, asook die ingangsdeur en die sluier van die Tabernakel. Die omheining het gedien as ’n skeiding tussen die kamp van Israel en die tabernakel. Dit het die mense verhinder om regstreeks toe te tree tot die tabernakel, waar God gewoon het.
More
Ons bedank Raymond D. Lombard Ministries vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/