Toegang Tot Die TabernakelVoorbeeld

Toegang Tot Die Tabernakel

DAG 3 VAN 5

DIE POORT IN DIE OMHEINING VAN DIE VOORHOF

Hierdie poort in die omheining was tussen vier pilare, en ongeveer 9,2 meter wyd en 2,3 meter hoog. Die poort was die enigste toegang van buite na die tabernakel in die voorhof. Ons let veral op drie dinge: die poort self, die behangsel en die pilare. Die poort was aan die oostekant, die kant van die opkomende son. Die eerste wat raakgesien word sodra ’n mens deur die poort ingaan, is die brandofferaltaar. In die voorhof word offers vir die sondes gebring, of dankoffers. Daar was vier pilare in die poort. Hulle was van akasiahout gemaak. Daar word nêrens gesê dat hierdie pilare van akasiahout gemaak was nie. Ons neem aan dat dit wel die geval was, omdat dié houtsoort die enigste was wat in die tabernakel gebruik is (Ex 26:32,37). Die pilare het voetstukke van koper gehad, terwyl die toppe met silwer oorgetrek was, ook die kramme en die ringe aan die bokant was van silwer (Ex 38:17). Die bedekking van die poort was van fyn dubbeldraad-linne met veelkleurige werk van pers, purperrooi en bloedrooi stowwe en die wit in die fyn dubbeldraad-linne (Ex 27:16). Elkeen van die kleure het ’n spesifieke betekenis.

Die poort as enigste ingang tot die voorhof van die tabernakel spreek tot ons dat Christus die enigste toegang tot die regte verhouding met God is (Ef 2:18; 3:12; Joh 14:6; Joh 10:9). Daar was vier pilare. Dit simboliseer die lewe van die Here Jesus Christus soos in die vier Evangelies beskrywe:

  • Matthéüs sien Hom as die Koning purperrooi is dan ook die koninklike kleur. 
  • Markus stel Jesus voor as die volmaakte dienskneg wat gehoorsaam was tot die dood toe – die bloedrooi (skarlaken) in die bedekking wys heen na sy lyding en dood en oorwinning (Op 5:6; 19:13; Jes 63:1-6). 
  • Lukas skilder Jesus as die Seun van die mens – die wit linne wys op Christus, as mens, se vlekkelose reinheid en geregtigheid (Op 19:8; Heb 7:26). 
  • Johannes beskou die Christus as die Seun van God, bloupurper (pers). Dit is ’n hemelse kleur en spreek van die hemel. Jesus verklaar dat Hy uit die hemel neergedaal het (Joh 3:13). 

Ons moet in gedagte hou dat om die poort van die voorhof van die tabernakel te kon ingaan, moes dit genader word van die kamp van Juda, aangesien dié kamp aan die oostekant van die tabernakel voor die ingang gevestig was. Onse Here Jesus Christus kom uit die nageslag van Juda (Heb 7:14). Die kopervoetstukke van die pilare spreek van oordeel. Die blink koper spreek van die regverdige oordeel van God, oor sonde. In die boek Openbaring lees ons van Jesus, die Seun van die mens: “en sy voete soos blink koper” (Op 1:15). Kyk ons na die voetstukke van die pilare, sien ons oordeel; die aarde waarop hulle rus, is onder die oordeel. Kyk ons na die toppe van die pilare, sien ons net silwer. “En die kramme en die ringe van die pilare van silwer; en die oortreksel van hulle toppe van silwer” (Ex 38:17). Hierdie silwer word in Exodus 38: 25-28 genoem “die silwer van die geteldes”. In Exodus 30:11-16 word verduidelik dat die silwer van die geteldes “losgeld” en “versoeningsgeld” genoem word. 

Elke man van 20 jaar en ouer moes aan die Here losgeld (’n halwe sikkel silwer) betaal. Hierdie silwer is gebruik om die voetstukke van die heiligdom te maak en die toppe, ringe en kramme van die pilare. Silwer spreek van versoening of verlossing. Die Here God spreek van sy verlostes as silwer: “En Hy sal sit: ’n smelter en reiniger van silwer” . . . (Mal 3:3). 

Die pilare van die voorhof by die poort spreek van: Verlossing (silwer) uit die oordeel (koper) deur die Here Jesus Christus se kruisdood (hout).

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Toegang Tot Die Tabernakel

In hierdie plan sal ons die omheining en die hek deeglik ondersoek, asook die ingangsdeur en die sluier van die Tabernakel. Die omheining het gedien as ’n skeiding tussen die kamp van Israel en die tabernakel. Dit het die mense verhinder om regstreeks toe te tree tot die tabernakel, waar God gewoon het.

More

Ons bedank Raymond D. Lombard Ministries vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/