Ek verklaar oorlog: 4 Sleutels Om Die Stryd Teen Jouself Te WenVoorbeeld
Die Geheim tot 'n Ellendige Lewe
Terwyl ek grootgeword het, was daar sekere dinge waaraan ek nie mag deelgeneem het nie, soos die jaarlikse Guy Fox-vieringe. Orals was daar partytjies en spesiale vuurwerkvertonings, maar my ouers het verduidelik waaroor die vieringe gaan. 'n Groep Engelse katolieke, onder leiding van 'n soldaat, Guy Fawkes, het saamgesweer om koning James I van Engeland in 'n sluipmoordpoging dood te maak, asook om die parlementsgeboue op te blaas. Ons sou dus nie jaarliks op 5 November 'n sameswering vier asof ons dit goedkeur nie. Vandag wonder ek hoeveel mense aan vieringe en allerlei aktiwiteite deelneem sonder om ondersoek in te stel na wat hulle werklik ondersteun.
Een van die redes hoekom ons maar dikwels met alles saamgaan, is omdat ons te onseker van onsself voel om standpunt in te neem. Dan glo ons ook maklik die leuen dat ons nie goed genoeg is nie. In plaas daarvan om die feite van die saak na te gaan, glo ons en deel ons in dinge of dra liewer maskers as 'n manier om ons onsekerhede te verberg. Luister egter hierna: Om vanuit onsekerhede te leef is die geheim tot 'n ellendige lewe.
Kyk na die lewe van Gideon en sy reis van jammerlike onsekerheid tot kwesbaarheid en uiteindelike krag. Gideon het 'n lae selfbeeld gehad en dit het veroorsaak dat hy ongemaklik was met God se roeping vir hom.
Gideon se verhaal is in Rigters opgeteken, gedurende 'n tyd toe die hardvogtige Midianiete oor God se mense, die Israeliete, begin heers het. Jy kan jou seker voorstel dat die Israeliete geweldig benoud was, en hulle het iets gedoen wat hulle nie eens in hul voorspoedige dae gedoen het nie: hulle het tot God om hulp geroep. God se reaksie was om 'n rigter, genaamd Gideon, te kies om sy mense te bevry. Waarmee was Gideon besig toe God hom geroep het? Hy was besig om koring in 'n parskuip uit te slaan.
Laat ek verduidelik, indien jy nie op 'n plaas woon nie. Om koring uit te slaan, neem jy 'n gaffel of hooivurk, skep van die koring en gooi dit in die lug op. Dit word in 'n winderige plek gedoen sodat die wind daardeur kan waai en die kaf so van die koring geskei word. Die kaf wat eenkant toe waai word bymekaar gemaak en weggegooi. Die swaarder koringkorrels val grond toe waar dit dan opgetel word om later te eet. Gideon se probleem was dat hy hierdie werk in 'n parskuip gedoen het. Sien jy enige foute in sy plan? Hoekom het hy nie buite op 'n heuwel gaan werk nie? Die Bybel is baie duidelik hieroor — Gideon was bang. Dit is juis in hierdie oomblik van lafhartigheid wat die engel van die Here (Bybelse kodewoord vir Jesus) opdaag en vir Gideon as 'n "dapper man" begroet ... beslis die teenoorgestelde van hoe hy gelyk en gevoel het. Jy sal dink dat dit genoeg sou wees om hom te oortuig dat hy vir die werk geroep is, maar dis juis op hierdie oomblik wat Gideon se onsekerhede sterk na vore tree.
Kortliks, Gideon aanvaar die uitdaging en maak 'n weermag bymekaar. God het egter dinge so beplan dat daar geen misverstand sou wees aan wie die eer toekom wanneer Gideon die oorwinning behaal nie.
In hierdie verhaal van Gideon, kan ons 'n waardevolle les leer. Een wat op die parskuip se vloer plaasvind: Voor die fisiese stryd plaasvind, gebeur 'n stryd in die denke. Die genesing vir onsekerheid is om jou ware self te verstaan. Dit beteken, as jy weet wie jy is, maak dit nie saak wie jy nié is nie. Dit is hoekom God vir Gideon gesê het dat hy 'n dapper man is. Moenie konsentreer op wat jy nié is nie, fokus op wat jy wél is! God het jou lief. God het jou lief. God het jou lief. Hallo! Die goeie nuus vir ons wat maskers dra, onseker en vals is, is dat as ons die maskers opgesit het, kan ons dit ewe maklik weer afhaal en wandel in die krag en doel wat vir ons bepaal is.
Vrae om jouself te vra:
- Watter onsekerhede is daar in my lewe wat ek bereid is om in die gesig te staar sodat ek dit kan aanspreek?
- Watter "masker" dra ek om my onsekerhede weg te steek?
- Watter drie stellings kan ek aan myself maak wanneer dit vir my nodig is om 'n kopskuif in my denke te maak, sodat ek onthou wie God sê dat ek is?
Aangaande hierdie leesplan
Wen die stryd met jouself deur oorlog te verklaar teen die weergawe van jouself wat jy nie wil wees nie. Ontdek die gedagtes, woorde, gewoontes en krag wat jy benodig om hierdie oorwinning te behaal. Jy is heel waarskynlik jou eie grootste vyand. Leer om uit jou eie pad te kom en om die wapen van oorwinning te ontdek om die innerlike stryd te oorwin.
More