Leef, wees lief, doenVoorbeeld
Ek het altyd gedink dat Jeeps die oulikste karre is wat ooit gemaak is. Hulle is gehard en prettig. Ek hou veral van die een wat nie 'n dak het nie. Ek het 'n helderrooi Jeep gehad, wat my uiteindelik gehelp het om 'n baie belangrike les te leer.
'n Paar jare gelede was ek op pad huis toe na kerk. Van nêrens af het 'n kar uit 'n systraat teen die bestuurderskant van my Jeep vasgery. Voor ek kon besef wat aangaan, het my Jeep omgerol en ek het deur die dak gevlieg! Ek het geweet ek moet altyd my veiligheidsgordel dra, maar hierdie keer het ek vergeet. Dit was regtig 'n groot fout.
Ek het in 'n sittende posisie op die teer beland, met my gesig na my ingeduikte kar. Stukkies van die Jeep het orals gelê — in die straat, op 'n grasperk en selfs in 'n heining daar naby. Wat 'n gemors! Ek het myself ondersoek om te sien of ek nog heel was.
Het ek nog al my arms en bene gehad? Ja.
Vingers en tone? Ja.
Ek het stadig opgestaan en besef dat ek eintlik heel goed voel. Ek het na die kar toe gestap wat nou net in my vasgery het. Die oorblufte bestuurder het met wydgerekte oë die stuurwiel krampagtig sit en vashou. Haar kneukels was wit.
Ek het my kop deur haar venster gesteek. "Haai, ek is Bob. Wat is jou naam?"
Die bestuurder was ongeveer negentig jaar oud, klein, broos en bang. Sy het 'n oomblik gehuiwer voor sy antwoord. "Ek ... ek is Lynn," het sy gestotter.
"Lynn, is alles in orde met jou?" het ek gevra.
"Ek dink so," het sy gesê. Skielik was daar trane in haar oë.
"Ek is baie jammer ... Weet jy dat jy deur die dak gevlieg het?!"
"Ag, Lynn," het ek gesê, met net so 'n ernstige stemtoon, maar met 'n glimlag in my stem. "Ek kan nie jok nie. Dit was 'n baie groot verrassing, maar ek is darem in een stuk. Moenie bekommerd wees nie. Als is reg!"
Lynn het nog steeds aaklig gevoel, maar ek het haar net daar vergewe. Dit was regtig 'n ongelooflike rit.
'n Paar dae later lui my telefoon. Dit was Lynn. "Bob, ek is vreeslik jammer", het sy in 'n huilstemmetjie gesê.
"Ag, Lynn," het ek geantwoord, "jy hoef regtig nie daaroor bekommerd te wees nie. Jy is vergewe. Dit gaan goed met my. Nie eens 'n blou kol nie. Jy hoef nie weer te bel nie."
Die snaakse ding is, sy het nie ophou bel nie. Deur die loop van die volgende paar dae het ek elke dag 'n oproep van Lynn af gekry. Elke keer as sy om verskoning wou vra, het ek haar herinner dat ek niks makeer nie. Om een of ander rede het sy my nie geglo as ek sê ek vergewe haar nie.
Jesus het baie kere daaroor gepraat om mense te vergewe. Weet jy hoeveel keer Jesus wil hê dat jy iemand moet vergewe wat jou kwaad aangedoen het? Dink aan die grootste getal wat jy jou kan voorstel en voeg nog 'n paar nulle by, dan sal jy miskien naby die getal wees hoeveel keer jy iemand moet vergewe. Jesus wil hê dat ons ander mense altyd sal vergewe.
Miskien weet jy hoe Lynn gevoel het, en jy voel aaklig oor 'n fout wat jy begaan het. Dalk glo jy nie as mense sê dat jy vergewe is nie. Soms moet ons sien dat ons vergewe is, in plaas daarvan om net die woorde te hoor.
Ek het dus 'n plan beraam. Op die vyfde dag het Lynn my weer gebel om te sê hoe jammer sy was. Ek het 'n bloemiste gebel en 'n groot bos blomme bestel. Ek het 'n kaartjie daarby gesit met die woorde: "Beste Lynn, dit was lekker om nou die dag in jou te kon vasloop. Jy hoef nie meer te bel nie! Liefde, Bob."
Liefde en vergifnis dra die meeste gewig as dit gedoen word, eerder as om net gesê te word. Dis hoekom dit so belangrik is dat Jesus moes kom. God het nie net vir ons gesê dat ons vergewe is nie; Hy het Jesus gestuur om by ons te wees en ons te wys dat ons vergewe is.
Ek het Lynn nog 'n paar kere na die ongeluk gesien. Dit het 'n rukkie geneem, maar ek dink sy glo nou regtig dat sy vergewe is. Ek dink God hoop dat ons ook so voel.
Aangaande hierdie leesplan
Bob Goff en Lindsey Goff Viducich se 3-dag leesplan: "Leer wat liefde doen", sal jou kind help om te leer hoe om in genade en liefde te leef! Hulle sal leer hoe om verantwoordelikheid te neem vir hulle foute (en hoe om ander te vergewe), hoe om hulle geloof te beoefen deur tyd saam met Jesus deur te bring en meer soos Hy op te tree. Kinders sal meer bemagtig voel om 'n tasbare verskil in die wêreld te maak.
More