’n Hart vol DankbaarheidVoorbeeld
DIE LEWE IS VLIETEND
“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tessalonisense 5:18).
’n Paar jaar gelede het dit vir ’n baie lang tyd nie goed gereën in die distrik waar ek boer nie, maar toe het dit uiteindelik behoorlik begin reën. Die gemeenskap se verligting was tasbaar en die oeste op al die plase het ’n ommekeer gehad.
Ek glo vas dat ons iets net waarlik kan waardeer as ons swaar gekry het. My kinders sal vir jou sê dat daar één ding is wat my regtig ontstel, selfs op hierdie ouderdom, en dit is vermorsing van water. Die rede daarvoor is dat ek al verskeie kere erge droogtes ervaar het. Trouens, in hierdie spesifieke omgewing het baie boere hul plase verloor weens die aanhoudende droogte wat ons in die tagtigerjare ervaar het. Dit het my ’n deeglike bewustheid gegee van die waarde van water.
Lyding en ontbering ontwikkel beslis karakter – dit is die water wat die siel voed. Die apostel Paulus het skipbreuk gely, is gestenig, geslaan, in die tronk gegooi, van kos ontneem en is uiteindelik in Rome onthoof. Nogtans kon hy in Romeine 5:3-4 sê: “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.”
Die lewe is vlietend! As jy ’n amper-dood ervaring gehad het, begin jy elke oomblik van die lewe geniet. Jy waardeer jou familie en vriende, jou werkgewer en werknemers, die reuk van reën op droë grond, ’n pasgebore baba en die sonsopkoms.
Iemand wat al self deur ’n moeilike tyd in sy of haar lewe is, sal medelye hê met ander. Ek wil jou aanmoedig om God, jou geliefdes en jou gemeenskap te waardeer. Ons het alles wat ons nodig het. Kom ons wees dankbaar en kyk mooi na alles wat aan ons toevertrou is.
GEBED: Dierbare Vader in die hemel, U is ’n magtige en wonderlike God. Dankie vir alles wat U my gee, ook tye van swaarkry. Ek weet dat U dit ten goede gebruik. Dankie vir u blywende liefde en getrouheid. Amen
Hierdie 5-dag leesplan is geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS en GENADE IN OORVLOED deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Aangaande hierdie leesplan
Daar is soveel om voor dankbaar te wees, waarvoor ons God elke dag kan dank. Wanneer ons besef dat elke asemteug ’n geskenk uit sy hand is, sal ons hart gevul word met dankbaarheid. Hierdie 5-dag leesplan is geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS en GENADE IN OORVLOED deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.
More
Ons wil graag Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. https://www.amazon.com/author/angusbuchan1