’n Hart vol DankbaarheidVoorbeeld

’n Hart vol Dankbaarheid

DAG 2 VAN 5

WEES DANKBAAR OOR ALLES

“Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied” (Psalm 28:7).

Terwyl ek een oggend gaan draf het, het die vroeë oggendson deur die wolke op die horison gebreek en dit 'n donker persrooi gekleur. Terwyl ek met die plaaspad langs gedraf het, het ek aan al die goeie dinge begin dink wat God my gegee het. Dit het my hart bly gemaak, en ek het besef dat wanneer ons bestek neem van wat ons het, dit dikwels soveel meer is as wat ons gedink het ons het. Ek was dankbaar vir my oë wat die pragtige oggend kon sien; ore om die voëlgesang te hoor; ’n gesin by die huis: my vrou, kinders en kleinkinders. My vrou is lief vir my en getrou aan my, sy het haar kinders lief en is versot op haar kleinkinders. My kinders het die Here lief en het ’n verhouding met Hom.

Ek het soveel dankbaarheid in my hart gehad oor al hierdie dinge en toe onthou ek dat my naam boonop in die boek van die lewe, die boek van die Lam staan, dat Jesus my Redder is en dat die ewigheid op my wag. Daar is soveel vrede in my hart – iets wat geld nie kan koop nie – en ek het die hele ent huis toe tot die Here gesing.

Later, toe ek by my lessenaar sit, het ek gedink aan dié wat nie die sonsopkoms kan sien nie, hulle wie se gedagtes donker en negatief is en wie se gesondheid sleg beïnvloed word deur hul ongelukkige lewensbeskouing. Dit het dikwels fisieke manifestasies tot gevolg soos 'n maagseer, 'n skeelhoofpyn en hoë bloeddruk.

As ’n mens ’n positiewe, dankbare hart het, het dit ook ’n invloed op die ander mense by jou werkplek. Elke wolk het ’n silwer randjie wanneer die son skyn, en God glimlag oor alles wat ons aanpak wanneer ons sy wêreld, ons handewerk en ’n opregte verhouding met Jesus geniet.

GEBED: Dierbare Here, U het my met soveel dinge geseën. Help my om in alle omstandighede dankbaar te wees en my seëninge te tel, in plaas daarvan om te tob oor dinge wat ek nié het nie. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

’n Hart vol Dankbaarheid

Daar is soveel om voor dankbaar te wees, waarvoor ons God elke dag kan dank. Wanneer ons besef dat elke asemteug ’n geskenk uit sy hand is, sal ons hart gevul word met dankbaarheid. Hierdie 5-dag leesplan is geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS en GENADE IN OORVLOED deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.

More

Ons wil graag Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. https://www.amazon.com/author/angusbuchan1