Wanneer Vreugde My Ontwyk Deur Nina SmitVoorbeeld
![Wanneer Vreugde My Ontwyk Deur Nina Smit](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F14043%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Bied jou troos aan
Om iemand te troos beteken dit om daar te wees wanneer iemand swaarkry. Om vir ’n swaarkrymens die boodskap te gee dat hy nie alleen is nie, dat jy daar is vir hom, en dat jy gewillig is om sy las te help dra.
Almal van ons ken swaarkrymense. En almal van ons kan iemand anders troos – met ons woorde, met ’n drukkie, soms net met ’n glimlag. Een van die Engelse woorde vir troos is “consolation”. Dit is saamgestel uit twee Latynse woorde: “om by te wees” (con) en “die eensame” (solus). Dit verwoord presies wat die woord “troos” beteken: om by iemand te wees wat eensaam is. Die lewe is só vol pyn dat ons dikwels wonder wat ons kan doen om die pyn van ons vriende en kennisse minder te maak.
Al wat jy hoef te doen, is om mense wat ly te verseker dat hulle nie alleen is nie; dat jy daar is om hulle te help en te bemoedig, al is dit nie vir jou moontlik om hul pyn weg te neem nie.
’n Luisterende oor en ’n eenvoudige gebed is van die dinge wat die heel beste kan troos. Vertel hulle ook van God se troos, want uiteindelik is daar niemand wat soos Hy kan troos nie (sien Psalm 86:17; 119:50, 76). En as jy die een is wat troos nodig het – aanvaar die troos van jou vriende en aanvaar God se troos; laat toe dat dit jou rustig maak soos dit soveel jare tevore vir die psalmdigter gedoen het.
Gebed
Here, dankie dat ek al soveel kere ervaar het dat u troos my weer rustig gemaak het op daardie tye toe ek eensaam en bang was. Leer my om ’n trooster vir ander te wees soos U dit vir my is. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
![Wanneer Vreugde My Ontwyk Deur Nina Smit](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F14043%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Hierdie 5-dag-leesplan oor vreugde sal lesers verseker dat God hulle baie liefhet. Elke dag bevat gedagtes rondom ’n spesifieke tema (soos vreugde, angs en vertroue in God), en eindig met ’n gebed en ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Wanneer vreugde my ontwyk”.
More
Ons wil graag Struik Christian Media bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.struikchristianmedia.co.za/