Aktiewe GeloofVoorbeeld
GELOOF bo vrees
God plaas baie keer seëninge vir ons net buite ons bereik. Hy plaas ons dan in 'n posisie waar ons, eerder as in onsself, geloof in HOM moet hê om dit te kan bereik. Hoekom? Omdat ons op geloof moet staatmaak en nie op ons eie vermoëns om groot prestasies te behaal nie.
Buiten die duiwel self, kan ons grootste vyande wees om in onsself te twyfel, 'n gebrek aan nederigheid en gemak. God se drome en doelwitte vir ons is so naby, maar ons moet soms ongemak of selfs deur tydperke van pyn gaan om dit te kan bereik. Om gemak vir die onbekende te verlaat kan vreesaanjaend wees en niemand hou daarvan nie. Die vrees vir ongemak, die onbekende of vir mislukking, verhoed dat baie mense nie hul drome verwesenlik of hul lewensdoelwitte bereik nie.
Ons weet dat ons hemelse Vader net die beste vir ons wil hê. Wanneer ons begin twyfel of die onbekende vrees, moet ons GELOOF bo vrees kies. Dit beteken nie dat ons nie bevrees is nie, maar dat ons KIES om ons vertroue in die almagtige God se hand plaas. 'n Deel daarvan om GELOOF bo vrees te kies, is die VERTROUE dat die Here ons beste belange op die hart dra en dat Hy ons nooit verkeerd sal lei nie.
Dit herinner my aan die storie van die klein dogtertjie wat dit baie geniet het om in haar sandbak te speel. Haar pa besluit toe dat hy haar na 'n beter plek wil neem sodat sy nog lekkerder kan speel. Sy het egter vreeslik gehuil toe hy haar uit haar sandbak optel. Sy kon nie verstaan hoekom haar pa wil hê sy moet haar gemaklike sandbak verlaat nie. Hy moes baie verduidelik en haar verseker dat alles reg sal wees, want hy neem haar na 'n beter plek. Gou het haar trane verander in gille van plesier en genot toe sy sien waarheen haar pa haar neem. 'n Lieflike wit strand waar daar genoeg sand en branders is om in te speel.
Hoeveel van ons is te gemaklik of bloot te bang om ons eie sandbak te verlaat, net omdat ons nie die pragtige wit strand kan sien nie? Soms het God vir ons 'n asemrowende strand voorberei, maar ons is te bang en weier om ons huidige gemaklike posisie te verlaat!
Of dit nou 'n nuwe werk is, 'n nuwe onderneming, 'n droom wat jy najaag, 'n bediening wat jy wil begin of enigiets wat God op jou hart geplaas het, vertrou net dat ons hemelse Vader jou sal lei tot waar Hy jou wil hê. Kies GELOOF bo vrees en word alles wat God wil hê jy moet wees!
Aangaande hierdie leesplan
Hoe kan jy daagliks ywerig in jou geloof wees? Weens die lewe se beproewings, is dit belangrik dat jy liggaamlik en geestelik fiks sal wees. Die "Active Faith Sports"-span het hierdie leesplan ontwikkel om praktiese raad daar te stel, sodat jy ywerig en fiks in jou geloofslewe kan wees. Instruksionele video's is verskaf deur Terry Williams van "League Elite Training" se fasiliteit in Houston, Texas.
More