Koester jou hartsmenseVoorbeeld
“Vergewe mekaar”
Om te vergewe, is ’n liefdesplig wat God van sy kinders vra. Hierdie vergifnis is nie gekoppel aan getalle nie. Vir die Jode in Jesus se tyd was die aanvaarde aantal kere wat jy iemand moes vergewe drie keer. Petrus is dus heel vrygewig wanneer hy by Jesus wil weet of ’n mens bereid behoort te wees om iemand anders sewe keer te vergewe. Jesus se antwoord moes die wind totaal uit sy seile geneem het: Nie sewe keer nie, maar sewentig maal sewe keer, sê Hy.
Die volgende gelykenis verduidelik wat Jesus hiermee bedoel: ’n Koning is bereid om miljoene rande af te skryf, maar as die man vir wie hy die geld kwytgeskeld het op sy beurt nie bereid is om iemand anders wat hom ’n klein bedraggie skuld te begenadig nie, word hy baie swaar gestraf. God is bereid om jou van jou onbetaalbare groot sondeskuld vry te skeld, en daarom behoort jy op jou beurt – uit dankbaarheid – bereid te wees om die genade wat aan jou bewys is aan ander deur te gee.
God vergewe onbeperk, en Hy verwag van jou om dit ook so te doen. Is jy gewillig?
Aangaande hierdie leesplan
Met al die eise wat ’n moderne leefwyse aan mense stel, is dit byna vanselfsprekend dat hulle minder tyd as ooit tevore het om aan hul gesinne en vriende te bestee. Hierdie 5-dag-plan is ’n samestelling van stukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit uit haar boek HOOP VIR ELKE DAG om vroue te help om weer balans in hulle lewe te kry en te besef hoe kosbaar hul naaste verhoudings is.
More
Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Nina Smit bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za