Here, hoor U my? deur Nina SmitVoorbeeld
Bid in die môre en in die aand
In die Ou-Testamentiese tyd het die Leviete of priesters ’n reeks belangrike opdragte gehad wat hulle nougeset moes nakom. Hulle moes die tempelwerk verrig, by die offerdiens help en die heilige voorwerpe versorg. Een van hul belangrikste opdragte was dat hulle elke oggend en aand by die tempel moes bymekaarkom om die Here te dank en te loof.
Soggens en saans kon die volk luister na die lofsang van die Leviete wat vir hulle God se genade onderstreep het. Hoewel soggens vroeg die beste tyd is vir jou gebedsafspraak met die Here, is dit ook nodig dat jy jou dag saam met Hom afsluit. ’n Mens kry twee soorte mense: die vroegopstaners en die laatgaanslapers. As jy ’n laatgaanslaper is, is dit miskien vir jou makliker om saans stiltetyd te hou. Sorg net dat jy nie een dag hierdie afspraak met God misloop nie, maar dit soos die Leviete van ouds elke dag nakom.
God is groot en heilig. Daarom kan jy nie sommer maar net in sy teenwoordigheid instorm en met Hom begin praat nie. Vir gebed is eerbied nodig. Jy behoort jouself eers in te stem, stil te raak en te bedaar. Ontspan heeltemal, vergeet van al die dinge wat jou angstig en gespanne maak en dink na oor God. Oosterse godsdienste gebruik so dikwels meditasietegnieke, maar sommige Christene is bang om Christelike meditasie toe te pas. Dit kan egter een van die wonderlikste ervarings van jou gebedslewe word.
Terwyl Oosterse meditasie beteken om jou leeg te maak van alles, beteken Christelike meditasie om jou gedagtes met God te vul. Vul jou gedagtes met God se eienskappe: Dink aan sy liefde vir jou, aan die wonders van sy skepping, aan sy alomteenwoordigheid, sy almag, trou en genade. Buig lag voor Hom en aanbid Hom – só kom jy in die regte stemming om met Hom te praat.
Gebed:
Hemelse Vader, dankie vir die vreugde wat u teenwoordigheid my gee. Maak my getrou, sodat ek nie een van ons afsprake misloop nie. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Elke dag van hierdie 5-dag-leesplan bevat gedagtes oor gebed. Elke dag het ’n spesifieke onderwerp, soos vergifnis, die belangrikheid van stiltetyd, en die rol van die Heilige Gees in ons lewe. Elke dag eindig met ’n kort gebed en ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Here, hoor U my?”.
More
Ons wil graag Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die voorsiening van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/here-hoor-u-my-grootdruk-hardeband