Here, hoor U my? deur Nina SmitVoorbeeld

Here, hoor U my? deur Nina Smit

DAG 3 VAN 5

Glo dat jy dit al ontvang het

Jesus gee vir sy dissipels ’n ongelooflike belofte: As hulle dit kan regkry om terwyl hulle bid te glo dat dié gebedsversoek reeds toegestaan is, sal God dit vir hulle gee. En God doen altyd wat Hy beloof. “Geloof sy die Here die God van Israel wat aan my vader Dawid ’n belofte gedoen het en dit deur sy mag vervul het,” sê Salomo (2 Kron. 6:4, 1983-vertaling).

Jesus se beloftes oor gebed is dan ook letterlik waar. Maar ’n mens moet een geheim ken voordat jy bid: Maak eers doodseker dat dít wat jy van God vra sy wil vir jou lewe is. Jy kan God se wil ken deur digby Jesus te lewe en jou hele lewe aan die beheer van sy Heilige Gees oor te gee.

Sorg dat jou gebede altyd aan drie vereistes voldoen: Bid in die Naam van Jesus, tot eer van God en onder die leiding van Heilige Gees. Dan kan jy seker wees dat jy dié dinge van God sal kry wat jy van Hom vra.

Soms is dit nogal moeilik om presies te weet wat God se wil is. Hoewel die Bybel etlike sake uitlig wat nié God se wil is nie en ander sake duidelik as God se wil stel, is daar baie dinge waaroor daar nie klinkklare duidelikheid bestaan nie. Die Here sal dié wat na sy wil vra nie in die steek laat nie, skryf die psalmdigter in Psalm 9:11. Hy sal ook sy wil aan jou openbaar as jy Hom daarvoor vra.

Gebed:

Hemelse Vader, dit is ongelooflik dat ek alles kan kry wat ek van U vra mits my gebed volgens u wil, tot u eer en in Jesus se Naam gebid word. Leer my om só te bid. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Here, hoor U my? deur Nina Smit

Elke dag van hierdie 5-dag-leesplan bevat gedagtes oor gebed. Elke dag het ’n spesifieke onderwerp, soos vergifnis, die belangrikheid van stiltetyd, en die rol van die Heilige Gees in ons lewe. Elke dag eindig met ’n kort gebed en ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Here, hoor U my?”.

More

Ons wil graag Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die voorsiening van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/here-hoor-u-my-grootdruk-hardeband