Vas Soos Daniël (10-Dag)Voorbeeld

Fast Like Daniel (10-Day)

DAG 8 VAN 10

Dag 8: Hierdie Soort

Vandag gaan jy lees wat heel moontlik die beste voorbeeld van 'n desperate gebed in die Bybel kan wees: "Ek glo, help my in my ongeloof!"

Daardie woorde kom van 'n pa wat alles probeer het om hulp vir sy seun te kry, maar wat niks anders as ontmoediging, teleurstelling en bitter nederlaag teëgekom het nie. Hy het selfs by God probeer — hy het sy seun na Jesus se dissipels toe gevat en hulle kon niks vir hom doen nie. 

Hierdie pa is desperaat. Ek is self 'n pa en kan myself in sy skoene (of sandale) plaas. As dit een van my seuns was, sou ek enigiets doen en ek sou nie moed opgee nie — al het ek gedink die situasie lyk hopeloos.

Hierdie man het nie veel hoop oor nie. Sy geloofstenk is leeg en sy geloof hang nog net aan 'n draadjie. As Jesus nie kan help nie …

Het jy al ooit só gevoel? Ek het.

Hierdie man het egter iets baie belangriks verstaan: sonder verwagting, sonder geloof, is daar geen hoop nie. Hy raak dus ontslae van valse nederigheid en die masker van 'n "goeie gelowige" en vra reguit om hulp: "Ek glo, help my in my ongeloof!"

Die laaste gedeelte van ons besprekingspunte is verwagting. Jy kan dit geloof noem — dis daardie hoopvolle gevoel wat deel van ons gebede moet wees. Dis nie genoeg om net te glo dat Hy God is nie; ons moet glo dat Hy bestaan en dat Hy diegene wat Hom soek, beloon (lees Hebreërs 11:6).

Jy voel dalk soos die pa van wie ons vandag gelees het en as dit so is, gaan ek vir jou dieselfde ding vertel as wat Jesus vir die pa gesê het: "Alle dinge is moontlik vir die een wat glo."

Henry Ford se bekende woorde was: "Of jy dink jy kan en of jy dink jy kan nie, jy is reg." Dit hang van jou verwagting af! Glo jy dat God dit kan doen — wat "dit" ook al in jou lewe verteenwoordig? Of het jou geloofstenk se hoop die bodem bereik soos met hierdie pa?

As jou tenk leeg is, jy uitgebrand is, jy uitgeput is, en dit moeilik is om God te glo — is jy presies op die regte plek! Jy hoef nie 'n bietjie geloof bymekaar te skraap of niksseggende, positiewe gedagtes op te tower nie. Vra eerder vir Jesus om jou te help, soos hierdie man gemaak het. 

Maak jou reg vir die goeie nuus: jy is alreeds besig om te doen wat Jesus vir sy dissipels gesê het om te doen — vas en bid. Wat gebeur as ons met verwagting vas en bid?

DEURBRAAK

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Fast Like Daniel (10-Day)

Vir enigiemand wat streef na 'n hegter verhouding met God, maar nie daarvan hou om te vas nie, het ek hierdie opsie — 'n 10-dag leesplan gebaseer op die boek: Vas Soos Daniël! Die Daniël-vas het my LEWE VERANDER, en ek het gesien hoe almal wat werklik in hierdie vas betrokke was, iets besonders van God ontvang het! Maak gereed om jou aan God te verbind en kyk hoe Hy jou lewe verander!

More

Baie dankie aan Scott Williams wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.fastlikedaniel.com