God, Waar Is U?! (Saam Met John Bevere)Voorbeeld
Geestelike Krag Opleiding
Gehoorsaamheid deur beproewing, verdrukkings en versoekings ontwikkel jou geestelike krag op ’n soortgelyke wyse as wat fisieke krag ontwikkel deur gewigte op te tel. Indien jy in staat is om ’n 65 kg geestelike uitdaging te kan hanteer, maar God het ’n plan of posisie wat vereis dat jy oor die kapasiteit moet beskik om 85 kg teenkanting, vervolging, versoeking en beproewing te kan hanteer, sal Hy dit nie toelaat nie, omdat jy nie sterk genoeg is nie. In plaas daarvan sal Hy die opleidingsproses begin. Hy sal toelaat, maar nie gebied nie, dat jy miskien deur ’n 70 kg beproewing gaan wat jou sal toets, maar nie sal oorweldig nie.
Iemand mag byvoorbeeld oor jou skinder en gerugte versprei. In plaas daarvan om ’n teenaanval te loods om jouself te verdedig, dalk self ’n gerug of skinderstorie oor daardie persoon te versprei, kies jy in gehoorsaamheid aan God om eerder stil te bly en die persoon te seën. Dit is wonderlik — jy het die 70 kg toets geslaag! Nou beweeg jy na die volgende vlak: 75 kg.
Indien jy aanhou om gehoorsaam te wees aan die Woord van die Here, te midde van teëspoed, word jou opleiding voortgesit tot jy die 85 kg vlak bereik. Nou is jy gereed vir die groter plan of nuwe posisie in die koninkryk. Dit is die eindresultaat wat God ten doel gehad het.
Sou jy egter reageer op die skinderstories deur aanstoot te neem en terug te kap na die persoon, huil die Here en sê: “Ek is jammer, maar dis nodig dat jy teruggaan na nog ’n paar 65 kg uitdagings.” Jy is steeds in die “gimnasium”, maar baat nie daarby nie.
Die opleiding duur voort, maar op dieselfde vlak. Vervolgens mag die Here dalk toelaat dat jy finansiële probleme — nog ’n 70 kg toets — ondervind. In plaas daarvan om God te vra vir voorsiening, sê jy: “Geen probleem, die kredietkaart is nie op sy maksimum nie!” Net daar kom die ekstra gewig weer af en die Here sê: “Terug na 65 kg.”
Wanneer jy aanhoudend die wildernistoetse — die “gewigoptel opleiding” — druip, sal daar uiteindelik ’n tyd kom wanneer die Here jou nodig het vir daardie spesifieke taak of posisie wat die 85 kg opposisie behels. Omdat jy egter nie gereed daarvoor is nie en die geestelike spierkrag ontbreek, moet die Here iemand anders vind om die taak te verrig of die posisie in te neem.
Wat ’n verlore geleentheid! Dit is waarom die beproewings wat ons deurgaan, as geestelike krag opleiding beskou moet word wat ons voorberei om groter toetse in die toekoms te kan hanteer. Met hierdie insig kan ons dit as vreugde beskou wanneer toetse en uitdagings oor ons pad kom, wetende dat dit in ons guns werk om ons geestelike spierkrag en kapasiteit te bou — indien ons deurentyd gehoorsaam bly.
Is jy besig om jou geestelike kragte te ontwikkel of veg jy met jou eie krag?
Aangaande hierdie leesplan
Voel jy verlore in ’n moeilike tydperk van jou lewe en wonder “GOD, WAAR IS U?!” In hierdie insiggewende leesplan rus topverkoper outeur, John Bevere, ons toe met sleutel Bybelse insigte en diepgaande stories wat sal help om jou te begelei deur die droë en moeilike tye en om in pas te kom met alles wat God vir jou in gedagte het.
More