Reis LigVoorbeeld
Om Beheer Oor Te Gee
'n Paar maande gelede was ek amper klaar met my internskap by my kerk. Dit was ongelooflik, maar ek het geen idee gehad wat volgende gaan gebeur nie. Ek het God gereeld gevra (en soms gesê) wat die volgende stap was, en dit het voorgekom of Hy my antwoord, maar sy antwoord het nie vir my sin gemaak nie. Ek het dus aangeneem dat ek verkeerd hoor.
Ek het beheer begin verloor oor dit wat ek wou hê. God het nie my lewe se plan gevolg nie!
Ek herinner my aan Jesus se ma. Kan jy jou dit voorstel? Maria kon nie besluit om 'n ongetroude, verwagtende tiener te wees nie. Sy kon nie besluit hoe haar toekomstige man sou reageer as hy hoor dat hy nie die biologiese pa is nie. Sy kon nie die opinies van ander beheer nie, en glo my, daar was beslis opinies.
Uiteindelik het ek besluit om die beheer, wat ek gedink het ek op my toekoms gehad het, te laat vaar en met oop hande aan God te gee. Amper soos Maria gesê het: "Laat met my gebeur wat U gesê het."
Ek moes nie verbaas gewees het nie, maar God het nie sy antwoord verander nie. Hy het my aanhou lei om na 'n ander dorp te gaan waar ek nie 'n werk gehad het nie, geen familie, geen plek om te bly of geen idee wat sou gebeur nie.
Maria en Josef het 'n soortgelyke reis na Egipte onderneem, maar hulle was op vlug om die lewe van hulle kind, wat die Seun van God was, te beskerm.
Ek was vreeslik verward, maar het voorbereidings begin tref om gehoorsaam te wees. Ek moes weereens nie verbaas gewees het nie, want ek het 'n blyplek gevind, 'n kamermaat, 'n werk, en ek is nou 'n vrywillige leier by die kerk.
Alles het ook goed uitgewerk vir Maria, Josef en Jesus!
Of dit nou 'n plek, beroep, finansies, ouerskap, verhoudinge of selfs stokperdjies is wat ek geniet — solank as wat ek in beheer is, werk dinge nie reg uit nie.
Ek het aanhou probeer om al die legkaartstukkies in plek te kry, maar dit wou nie pas nie. God kan egter die voltooide legkaart sien. Van nou af vertrou ek Hom met al die stukkies van my lewe. Laat dit so wees.
Kaelyn, wat nie in beheer is nie
Oordink: Waaraan klou jy nog vas? Wat is jy bang om te laat vaar? In watter deel van jou lewe maak God se antwoorde nie vir jou sin nie? Wat is jou eerste stap om beheer oor te gee?
Aangaande hierdie leesplan
In 'n besige Kersfeestyd ondervind die meeste van ons die spanning en angstigheid van gesinsverhoudings, finansiële druk, vinnige besluite en verwagtinge wat nie vervul word nie. Kom nou. Haal diep asem. Begin met hierdie leesplan van Life.Church en besef dat die las wat ons dra nie iets is wat God ons gegee het nie. Sal jy van die bagasie ontslae raak? Kom ons reis lig.
More