Wie is die Heilige Gees?Voorbeeld
Heilige Gees, Is Dit U?
Onthou jy nog die wonder van die radio waaroor ons 'n paar dae gelede gepraat het? Dit voel soos toor, maar as jy iets van radiogolwe, torings en lugdrade verstaan, vervaag die wonder. Dis amper dieselfde met die stem van die Heilige Gees. Ons raak nooit aan die wonder gewoond nie, maar as ons leer hoe God met ons praat, voel dit al hoe meer natuurlik.
Hoe weet ons dus dat dit in werklikheid die Heilige Gees se stem is wat in ons koppe praat? Dis nie so moeilik as wat jy dink nie. Hou in gedagte dat God met jou wil praat en jou gemaak het om sy stem te kan hoor. As jy iets hoor of gewaar wat jy dink dalk God kan wees, is daar 'n paar eenvoudige toetse wat jy kan doen om seker te maak.
Toets dit eerstens met die Bybel. Vra daardie stem in jou kop jou om iets te doen wat nie in lyn is met God se karakter, soos dit in die Bybel beskryf word nie? As dit so is, is dit nie die Heilige Gees nie. God lieg nooit. God sal ons nooit lei om sonde te doen of die verkeerde keuses te maak nie. Hy is baie lief vir die mensdom, selfs die mense van wie jy nie hou nie.
Partykeer sal Hy ons vra om iets te doen waarmee ons effens ongemaklik is, soos om iemand 'n tweede kans te gee nadat hulle jou seergemaak het of om iemand te bemoedig met wie jy eintlik nie wil praat nie.
Dit is hoekom dit so belangrik is om die Bybel te lees. Die Heilige Gees kan dit wat jy in die Bybel lees, gebruik om jou oor God se karakter te leer, sodat sy stem bekend klink as jy dit hoor.
Jy kan dit ook toets met jou eie selfsugtigheid. Ons as mense is van nature selfsugtig. Wanneer daardie stem in jou kop dus vir jou sê om 'n onselfsugtige ding te doen of om iemand anders eerste te stel, is dit waarskynlik die Heilige Gees. Jy weet seker hoe dit voel as 'n ouer of onderwyser jou aanmoedig om die regte ding te doen en jy dit nie eintlik wil doen nie? Jy bied weerstand daarteen. Daardie opstandige stem is nie God se stem nie. Die stem wat jou egter vra om die regte ding, in plaas van die maklike ding, te doen, is heel waarskynlik die Heilige Gees.
Een laaste toets — klink dit soos iets wat die duiwel sou doen? Ek weet dis seker vanselfsprekend, maar as jy nog nie baie Bybel gelees het nie, kan dit maklik wees om sy stem te verwar vir iets goed. Die Satan laat alles altyd goed klink, maar een van die Heilige Gees se werke is om jou iets te gee wat onderskeiding genoem word. Dit beteken maar net dat die Heilige Gees jou sal help om te herken as iets van die Satan af kom eerder as van God af. As die stem in jou kop jou dus vra om iets te doen wat nie heeltemal reg klink nie, maar jy kan nie die rede insien nie, is dit waarskynlik die Heilige Gees wat jou help om die verkeerde stem te herken.
Soms gebruik mense God se naam om belaglike en soms pynlike goed te doen en te sê. Moet dit nie doen nie. As jy ooit voel dat God vir jou sê om iets te doen wat iemand anders kan seermaak, is dit heel waarskynlik nie God nie.
Daar is inderdaad nog 'n toets wat ons in die boek van Galasiërs vind. Dit praat oor die vrug van die gees wat liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid en getrouheid is. Die Heilige Gees sal daarmee saamstem. Soms vra die Heilige Gees jou om meer liefdevol te wees. Of geduldig. Of vriendelik. Hy sal jou nooit vra om die teenoorgestelde te doen nie. Hy sal jou nooit vra om ongeduldig of haatdraend te wees nie.
Die goeie nuus is dat, as jy probeer om God tevrede te stel, Hy jou bedoeling sal eer en jy sal sy stem duidelik hoor. Jesus het gesê: "My skape ken my stem." Moet dus nie bekommerd wees nie. Jy sal Hom herken as Hy praat.
Môre sal ons dit alles saamvat. Noudat jy weet wie die Heilige Gees is en hoe Hy praat, is dit tyd om 'n gesprek met Hom aan die gang te sit.
Aangaande hierdie leesplan
Die Heilige Gees is God wat binne-in jou woon, in jou gedagtes praat en jou nader aan Hom lei. Hy moedig jou altyd aan om nie net die regte ding te doen nie, maar ook die Goddelike ding. Hy is daar om jou te help om keuses te maak en dinge te doen wat jou lewe sal verander. Pak hierdie 6-dag reis aan om te verstaan wie Hy is en hoekom jy nie 'n Goddelike lewe sonder Hom kan leef nie.
More